Dina Hohls gebruik geloof, kuns en musiek om voluit te leef
Moontlik het die verlange na die plaas Excelsior op Platrand waar haar broer, Hannes en skoonsus, Debbie bly, ook ’n rol gespeel.
‘n Standerton-inwoner wat al ‘n draai of wat in die buiteland gemaak het, se wortels is op die Hoêveld geanker.
Me. Dina Hohls se seun, Ruben, het met die onderhoud tersyde opgemerk dat sy konserwatief is, maar glo dit of te nie, haar hart lê in Amsterdam, Holland.
Dina en haar tweede man, Arnold, het in die noorde van Duitsland vir ‘n tydjie gebly, ook die suide voordat die verlange na die son in Suid-Afrika die knoop deurgehaak en hul teruggekeer het.
Moontlik het die verlange na die plaas Excelsior op Platrand waar haar broer, Hannes en skoonsus Debbie bly, ook ‘n rol gespeel.
Arnold is oorlede toe Ruben ses maande oud was.
Dié oud-onderwyser van Azalea Combined School het haar onderwyskwalifikasies by die destydse Potchefstroom Universiteit geslyp en het in die koshuis, Klawerhof, veral die binnehof en groen gras geniet.
Na 15 jaar as Engelse onderwyser het sy afgetree en is nou tjok-en-blok besig met belangstellings wat wissel van kuns en musiek tot uitleef van ‘n geloofsvertroue.

Dit sal nie ongewoon wees om haar by Wakkerstroom-feeste te sien nie waar haar liefde vir kamermusiek en veral die tjello, gevoed word.
Dié opvoeder met die kunssinnige streep pak ook die reise na menige ander feeste in die land aan en siende sy baie lief is vir die mondfluitjie, is dit ‘n noodsaaklike item op die pad.
“Jy kan mondfluitjie speel as jy bestuur,” aldus Dina.
Sy het ook haar kitaar ingestem om ‘n liedjie te sing wat sy spesiaal vir haar ma se 90ste verjaarsdag gekomponeer het.
Een van die reëls in die lirieke het dié feestelikheid onderstreep:
“….. maar met koek en roomys gaan ons nou makietie hou.”
Dit ontbreek nie aan boeregasvyheid by haar huis nie met ‘n keuse van watter soort koffie gemaak kan word met ietsie daarby, ‘n sjokoladebederfie.
Vir oefening, sal sy swem, stap en fietsry voordat iets voorval wat haar aandag vereis, soos byvoorbeeld die plaaslike DBV.
‘Bluebells’, een van die die katte, het die onderhoud rustig gadegeslaan.
Dina het nie vir ‘n oomblik geweifel om haar metgeselle in die lewe aan te dui nie, liefde en gebed.
“My voete is op die grond, maar my kop is in die wolke,” het sy mee afgesluit.



