Bethallers leer van kuns met koffie
Bethallers het onlangs koffiekuns by me. Natasja Lloyd geleer. Met ’n kwas en koffie kon elk hul eie kunswerk skep.
BETHAL – Uit nood het sy met koffie begin skilder en nou leer sy ook ander dié tegniek.
Me. Natasja Lloyd het op Woensdag, 13 November ‘n kunsklas by Jim Van Tonderskool aangebied.
Enigeen wat in kuns belangstel of net ‘n nuwe vaardigheid wou leer, kon dit bywoon.
Sy het gesien dat soveel mense die behoefte het om te skilder, maar nie verf, papier en ander kunsbenodighede kan bekostig nie.
“Ek het begin deur kinders in ‘n minderbevoorregte gebied te leer om met koffie op tydskrif-papier te skilder. My doel was dat jy huistoe kan gaan en daar ook skilder. Koffie is bekostigbaar en jy kan op byna enigiets tot jou beskikking skilder.”
Vóór die groep met die koffie begin skilder het, het me. Lloyd eers ‘n paar sketslesse gegee.
Op ‘n maklike verstaanbare wyse het sy verduidelik hoe ‘n mond, ‘n neus, oë en hare geteken kan word.
Hoewel mans ook welkom was, het net vroue dit dié keer bygewoon.
Dié vroue het dit beskryf as ‘n verrykende ervaring en iets wat hulle weer by die huis sal oefen.
Me. Lloyd be-oog om weer so ‘n klas aan te bied.




