Ferdie Weyers pak uitdagings oopkop aan
Die Weyerse het op 16 Junie 1991 op die dorp opgedaag en Ferdie het Saads Apteek dieselfde jaar gekoop en vyf jaar later sou apteke soos Standerton Apteek, Daniel & Fourie en Ledikers saamsmelt.
‘n Jongman, gewapen met ‘n B.Pharm, het al die pad van Virginia in die Vrystaat hom as sakeman op Standerton gevestig nadat sy entrepreneurskap ‘n paar kinkels en draaie ingesluit het.
Die draaie het verblyf in Kanada behels en die kinkels was om verskeie plaaslike apteke onder een naam te verenig.
“Ek wou ‘n apteker wees sedert ek 16-jaar-oud was,” het mnr. Ferdie Weyers gesê.
Maximed Apteek in Princess-straat se naam is die breinkind van oud-inwoner, apteker en voormalige vennoot, mnr. Jeremy Seigel, wat verwys na die vloeroppervlak van 450m².
Mnr. Peter Daniel, oud-inwoner, was ook een van die vennote.
Dit was destyds, behalwe vir een in Mbombela (Nelspruit), die grootste apteek in Mpumalanga in terme van vloeroppervlak.
Ferdie het aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir CHO sy graad in 1986 verwerf en is met Michelle de Ville, ook ‘n aptekerswesestudent in 1987 getroud.
Die Weyerse het op 16 Junie 1991 op die dorp opgedaag en Ferdie het Saads Apteek dieselfde jaar gekoop en vyf jaar later sou apteke soos Standerton Apteek, Daniel & Fourie en Ledikers saamsmelt.
Maximed het sy deure amptelik op 21 September 1996 geopen.
“Baie klante het aanvanklik vreemd gevoel, maar die sinenergie van ‘n klomp mense saam het gehelp.”
Teen einde 2009 het oorsese waters gewink en hy moes Kanadese eksamens aflê om te kan praktiseer, maar hulle het in 2012 na Suid-Afrika teruggekeer.
Ferdie het vir ‘n kort tydjie op Delmas gewerk voordat die Weyerse weer by Maximed te sien was.
Deesdae is Michelle ‘n gereelde gesig agter die aptekerstoonbank en Ferdie druk besig in sy kantoor.
“Daar is moontlik iewers in my DNS ‘n sakeman-gene. Ook kan dit moontlik ‘n oorlewingsinstink wees.”
Maak geen fout nie, hy besef terdeë die uitdagings verbonde aan die bedryf.
‘n Bemarkingstrategie het ook vrugte afgewerp wat gratis aflewering insluit, gerieflike kaartgeriewe, ‘n OTM-masjien en voorafbetaalkrag kan onder een dak gekoop word.
Maximed slaan menseverhoudings hoog aan vanweë die persoonlike element wat so ‘n groot rol speel. “Ons weier om een enkele klant te verloor.”




