Local newsNews

Marius Scheepers van Secunda loop weer ná BSR-behandeling

Die spesialis wou so gou moontlik opereer, maar mnr. Scheepers het besluit om eers bietjie te wag en iets anders te probeer.

SECUNDA – Mnr. Marius Scheepers is dankbaar dat hy weer kan loop nadat hy in 2009 verlam was.

Hy en sy vrou, me. Dorothy Scheepers, glo dit is weens liggaamspanningverligting (body stress release of BSR), dat hy weer op die been is.

Mnr. Scheepers het in Desember 2008 van ‘n leer afgeval terwyl hy ligte in die dak gesit het.

Hy het sy linkerknie seergemaak en is hospitaal toe waar sy knie geopereer is.

Hy het egter vroeg die volgende jaar gereeld pyn in sy rug ervaar en het eers gedink daar is iets fout met sy niere.

Die pyn het egter erger geraak en een aand in Februarie 2009, toe hy vir werk uitgeroep is, het mnr. Scheepers gesukkel om te loop.

Hy het dié aand toe hy by die huis gekom het, dadelik gaan lê omdat hy soveel pyn gehad het.

Toe hy die volgende oggend wakker word, kon hy nie sy bene of voete beweeg nie.”Ek het geen gevoel in my bene gehad nie, behalwe vir ‘n intense pyn in my lae rug,” het mnr. Scheepers vertel.

Die gevoel in sy bene het wel ‘n paar dae later teruggekeer, maar hy kon slegs beweeg het as hy teen iets vasgehou het, krukke gebruik het of teen die muur gedruk het.

Toe sy bene weer erger begin raak het, is mnr. Scheepers uiteindelik na die dokter.

Die dokter het geen fout of sy X-strale gevind nie, behalwe dat die spiere saamgeetrek was.

Ná fisioterapie nie gehelp het nie, het die dokter vir mnr. Scheepers na ‘n ortopeet verwys.

Die ortopeet het met ‘n MRI-skandering bevind dat die kussinkies tussen twee rugwerwels uitgeskiet en mnr. Scheepers se senuweestelsel ontwrig het.

Die spesialis wou so gou moontlik opereer, maar mnr. Scheepers het besluit om eers bietjie te wag en iets anders te probeer.

Me. Scheepers het toe reeds van BSR gehoor en wou hê mnr. Scheepers moes vir ‘n paar sessies gaan.

“Tydens die eerste sessie het ek op die grond gelê en brul van die pyn,” het mnr. Scheepers vertel.

“Dit het gevoel of ‘n Sumo-stoeier bo-op my bene gespring het.

“Dit was ‘n moeilike tyd – jy voel nutteloos en magteloos as jy nie kan loop nie. Ek was buierig en humeurig en die pynpille het nie gehelp nie.”

Mnr. Scheepers was vir drie maande van die werk afgeboek. Hy het in dié tyd gereeld vir BSR-behandeling gegaan en later die jaar was mnr. Scheepers daartoe in staat om weer normaal loop. Die pyn was ook aansienlik minder. Hy kan nou weer ‘n lewe van beter gehalte lei.

“Die fisioterapeut was stomgeslaan toe ek haar eendag in die dorp gesien het en toe vertel het dat ek nooit ‘n operasie ondergaan het nie.”

Me. Scheepers het besluit om ‘n kursus te loop om BSR-behandeling toe te pas en sy werk al vir nege jaar in dié rigting.

“BSR is goed vir ‘n mens se fisiese-, chemiese en emosionele spanning,” het sy gesê.

“Deur die impulse in my hande, stel ek spanning in die liggaam vry.

“Die kommunikasie in die liggaam rakende spanning is herstel en die liggaam genees dan homself.”

Me. Scheepers het al ‘n vrou wat ‘n kwadrupleeg is, gehelp en sy het verbetering getoon sedert sy vir BSR-behandeling gegaan het.

“Haar hande was inmekaar getrek en sy kon niks vashou nie.

“Ná haar eerste sessie by ons, kon sy ‘n beker vashou.”

Mnr. Scheepers het twee jaar later besluit hy wil ook die kursus doen sodat hy ook BSR-behandeling kan toepas.

Die egpaar het ook al diere met BSR behandel en sal nooit vergeet hoe ‘n mishandelde perd ná die eerste sessie gereageer het nie.

“Ons het met die eerste sessie gesukkel om die dier gevang te kry. Toe ons vir die tweede sessie op die plaas gekom het en die perd ons gesien het, het hy na ons toe gehardloop en met sy kop op my skouer kom rus,” het me. Scheepers vertel.

“Ons glo dis uit dankbaarheid omdat daar so baie spanning van die perd se liggaam vrygekom het nadat ons deur die eerste sessie met hom is.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button