Anneri Gradige pak die lang tog aan na China
Me. Anneri Gradige het in haar vroeë vyftigs besluit om haar tas te pak en in China te gaan skool gee.
BETHAL – Me. Anneri Gradige het in haar vroeë vyftigs besluit om haar tas te pak en in China te gaan skool gee.
Ongelukkig het sy dié tas nie weer gesien nie omdat dit nooit by haar eindbestemming uitgekom het nie, maar soos sy sê: dit is deel van die avontuur.
Moeg vir die gejaag van die alledaagse lewe en lus vir ‘n avontuur het haar gedryf om oorsee Engels as vak te gee.
“Ek glo regtig dat die Here die goed op ‘n mens se pad sit wat met jou gebeur. Alles gebeur met ‘n doel. Ek het vir my man gesê ek wil in China gaan skoolgee en hy het giggelend geantwoord, goed doen dit.”
Die plan was om net vir een jaar te gaan, maar sy het van Julie 2017 tot Julie 2019 daar gewoon en gewerk.
“Niemand verstaan jou nie en sommige mense praat gebroke Engels. Ons kon glad nie my tas opgespoor het nie en ek moes toe maar sien kom klaar. Gelukkig kon die vrou wie my kom haal het my verstaan.
“Baie papierwerk moes eers in plek gewees het voor ek kon vertrek,” het me. Gradige gesê. Sy het snaakse vrugte teëgekom en selfs van dit geproe.
“Dit het ongelooflik baie guts geverg. Ek moet bieg, in ‘n stadium het ek gewonder wat ek nou aangepak het. Dit was absoluut ‘n kultuurskok, maar gelukkig het ek verwag dat dit gaan vreemd wees.”

Hoewel dit ‘n volksvreemde ervaring vir haar was, was dit baie veilig en die polisie was heeltyd teenwoordigheid.
Een van die mees skrikwekkende oomblikke wat sy ervaar het, was ‘n aardbewing.
“Ek het op die bed gelê en vir my man gewag om my te bel.
“Dit het eweskielik doodstil geraak en toe klink dit soos ‘n groot swaar roller wat oor die teerpad rol.
“Terwyl ek sit en wonder waarom dié roller so laat in die aand hier verby gaan, het my bed begin roer.
“Ek kon hoor hoe die klippies in die mure afkrummel en val. Die bed het toe al hoe meer begin ruk, ruk, ruk en ek het lam geword van die skrik, want wat moet ek doen?
Gelukkig was dit vinnig verby en ek moes toe later hoor dat dit gereeld gebeur en niks ernstig was nie.”
Omdat dit goedkoper is om van daar rond te toer, kon sy verskeie interessante plekke besoek.
“Die leefkoste is min en hul vrugte is spot-goedkoop. Ek kon soveel dinge ervaar en sal enigiemand aanraai om te gaan.”
In Shanghai het sy in een van die vinnigste hysbakke te wêreld gery.
Die Shanghai Tower is die wêreld se tweede hoogste gebou en dié toring het reeds drie Guinness-wêredrekords opgestel.
Dié Chinese wolkekrabber beskik nou amptelik oor die wêreld se vinnigste hysbak, die hoogste hysbak in ‘n gebou en die vinnigste hysbak met dubbeldek.
Me. Gradige het té veel avonture ervaar om te kan opnoem, maar sy het wel gesê dat as iemand sou belangstel om nog te hoor of ook daar skool te gaan hou, kan hulle haar skakel of ‘n WhatsApp stuur na 082 445 3793.




