Kathy Swart het nog nie heeltemal afskeid van die dorp geneem nie
Kathy het destyds aan die Potchefstroom Convent studeer voordat sy op 15-jarige ouderdom as ‘apprentice’ begin werk het.
Me. Kathy Swart wat drie jaar gelede vir die laaste keer klante se hare sorgvuldig gesny, drooggeblaas, gekleur of met strepies agtergelaat het, pendel nou tussen Standerton en KwaZulu-Natal elke ses weke.
Hoewel sy haar tuisgemaak het in dié provinsie, kan ‘n bestaan van 60 jaar op Standerton nie goedsmoeds oorboord gegooi word nie.
Haar man, Piet, werk nog by Tutuka Kragstasie en Kathy is teen dié tyd geskool daarin om langafstandverhoudings in stand te hou siende haar dogter Sandie en kleinseun Shawn in Perth, Australië bly en haar seun Kobus, ook nie ‘n klipgooi ver is nie.
Sy het al nege keer Doer Onder gaan kuier, maar beplan nie om daar te bly nie.
Kathy het destyds aan die Potchefstroom Convent studeer voordat sy op 15-jarige ouderdom as ‘apprentice’ begin werk het.
Haar eie onderneming is in 1974 in Burgerstraat oopgemaak en deur die jare het sy tred met modegiere en haarstyle gehou en menige groot aand in ‘n matriekdogter of groot dag in ‘n bruid se lewe is voorafgegaan met ‘n afspraak om Kathy te sien.
“Ek het seker ‘n miljoen meisies se hare vir die matriekafskeid gedoen,” het sy skertsend opgemerk.
Haar belangstellings strek vanaf groentetuin maak tot hoenders, eende, makoue en poue aanhou en met haar handvaardighede, soos bewys in die salon as sy besig was met ‘n skêr, skort daar niks.
Sy behoort aan ‘n brei- en hekelklub en houtsneewerk is ook ‘n gunsteling, hoewel blokkieraaisels haar sodanig interesseer dat ‘n genotvolle uurtjie of wat bestee kan word om presies die regte woord te kry.
Meeste inwoners ken ook haar liefde vir dans en veral lyndans is ‘n gunsteling, country-musiek voer hier die botoon.
“Standerton was baie goed vir my want die publiek het my ondernemings ondersteun,” het Kathy mee afgesluit.



