Dalene van Zyl pas jarelange ondervinding by dagsorg toe
‘Tant Lien’ of ‘Ouma Lien’ sal plat op die mat gaan sit, in die sandput saamspeel en ook die karretjies uithaal.
Me. Dalene van Zyl van Standerton buig nou die boompie terwyl hy jonk is.
Sy pas nou jarelange ondervinding in die onderwys en kinderhuisbelewenisse op haar dagsorgsentrum in Meyerville toe met die terapiehond, Blackie, wat saamwerk.
Dalene se normale dag kan enigiets vanaf 5.45vm begin en 6.30nm ophou wanneer die laaste ouers, moontlik uitasem, opdaag om hul kroos te kom haal.
Sy het aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege ‘n vier-jaar-kursus voltooi en met gereelde verhuising wat haar oorlede man, Tinus se werk ingehou het, op verskeie plekke skoolgehou.
Die Van Zyls het in 1992 op Standerton aangekom en Dalene het by Hoërskool George Hofmeyr aangesluit en sou eers 18 jaar later, toe as departementshoof, op vervroegde pensioen gaan.
“Die Georgies was ‘n belewenis en wonderlike leerskool,” het Dalene gesê.
Dalene het ‘n twee-jaar-diploma deur Unisa in berading suksesvol afgelê wat haar daar handig te pas gekom het.
“Ek het egter besluit ek wil met kleiner kinders werk.”
Nie eens mnr. Pieter Bester, skoolhoof, kon haar van haar voorneme laat afsien nie en gewapen met haar geloof, is Dalrize Dagsorg en Kleuterskool gevestig, wat nou 72 kinders huisves.
Is dit die regte ding om te doen het, sy haar menigmaal afgevra.
Die Van Zyls het ook destyds as huisouers by die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom en by die Jac van Belkum Kinderhuis op Krugersdorp diens gedoen.
“Dit was ‘n goeie ervaring om met verwaarloosde en soms mishandelde kinders te werk.”
Daarbenewens het sy in Mmbatho, voormalige hoofstad van die ou Bophuthatswana, by ‘n privaatskool tussen kosmopolitiese leerders en onderwysers klasgegee.
Dalene het twee kinders, Mari-Elize en Danie en die twee kleinkinders is haar hart se punt.
“Ek is so bevoorreg om hul daagliks te kan sien.”
Sy is steeds in verbinding met die oud-leerders van Georgies en ontvang uitnodigings na troues en word laat weet as babas gebore word.



