Local newsNews

Amelia skryf tweede boek en voltooi doktorsgraad

Vrou se twee boeke is nou te koop

SECUNDA – Dr. Amelia Loggenberg se tweede boek, Through Faith into Eternal Freedom, het onlangs die lig gesien en is tans beskikbaar.

Dr. Loggenberg se eerste boek, God (YHVH Elohim)’s Fellowhip Invitation, het sy verlede jaar klaar geskryf as deel van haar tesis vir haar meestersgraad.

Haar tweede boek was deel van haar tesis vir haar doktorsgraad in teologie.

Sy het dié boek in agt maande geskryf, maar dit behels sowat 10 jaar se navorsing en inligting wat vanuit haar pen gevloei het.

Berading was ook deel van dr. Loggenberg se studies. Sy het onlangs by die Roepersfontein-gemeente op Kriel haar graad ontvang.

Haar mentor, mnr. Jurie Naudé, het haar aangespoor om vir ‘n graad in teologie te studeer.

Dr. Loggenberg se nuutste boek is in drie dele opgedeel en gaan oor mense wat geroep is deur God om Sy mense te lei en dat God almal gebruik tot bevordering van Sy Koningkryk.

Dit gaan oor ondere andere die mans en vroue van Israel van die Bybelse tyd wie God gebruik het om Sy volk te lei.

Die laaste deel van die boek fokus op vyf hedendaagse vroue en hul pad met God.

Een van die karakters beeld dr. Loggenberg se persoonlike reis met God uit en die lewenspad wat sy tot dusver gestap het.

“Dit is ‘n baie diep boek,” het dr. Loggenberg gesê.

“Ek het geleer hoe God mense kies en op spesifieke plekke plaas om Sy belofte – om mense te red van die ewige dood – in vervulling te bring.

“As God een persoon vra en hy faal om die Here se werk te doen, het God reeds ‘n volgende kandidaat opgerig.

“Dit is sodat ander kan sien God gebruik steeds gewone mense vandag om Sy Koninkryk te bou.”

Dr. Loggenberg het ook geleer dat ‘n mens, al het jy die pad byster geraak, altyd kan teruggaan na God toe en om vergifnis vra.

“‘n Goeie voorbeeld hiervan is koning Dawid in die Bybel. My boek gaan oor geloof en God se liefde. God seën ons met baie dinge wat ons nie eers vir Hom vra nie.”

Dr. Loggenberg het in Johannesburg grootgeword en ná skool by die Suid-Afrikaanse Lugdiens as grondwaardin begin gewerk en toe vir Air Malawi as assistent-stasiebestuurder.

Sy het later voltyds ma gespeel vir haar twee seuns en deeltyds haar lyf entrepreneur gehou. Sy is lief vir kuns en het bemarking as ‘n uitdaging gesien.

Sy bly sedert 2001 op Secunda en het destyds op Secunda as skoonheids- en naeltegnikus gewerk.

Sy het dit later verruil en as Taekwondo-instrukteur by die Victory Taekwondo-sentrum gewerk. Haar man, mnr. Cecil Loggenberg, is haar steunpilaar en die egpaar is nou drie jaar getroud.

Dr. Loggenberg se lewe het in September 2011 verander toe sy as jeugleier gewerk het en ‘n ontmoeting met die Here gehad.

Hy het vir haar gesê: “Jy was verlore, maar jy soek My, nou het jy My gevind.”

“Ek het daarna vir vier dae aanmekaar gehuil en kon met niemand praat nie, iets het in my gees gebeur,” het dr. Loggenberg gesê.

“Die oomblik toe ek dit met ander mense kon deel, het alles in my lewe verander, geestelik en fisies.”

Dr. Loggenberg het op ‘n stadium ‘n waterwinkel op Secunda gehad en sy het dit geniet om met mense te werk.

Sy voorsien nou steeds water aan ondernemings.

In haar vrye tyd skilder sy graag, skryf gedigte of luister musiek.

Dr. Amelia Loggenberg se tweede boek het onlangs die lig gesien.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button