Local newsNews

Bethaller druk haar eie stempel af op koekversiering

Haar seun is met outisme gebore en moet steeds doeke dra. Me. Surien Kriek het daarom begin koek bak vir ’n ekstra inkomste.

BETHAL – Me. Surien Kriek het vir ‘n ekstra inkomste koeke begin bak en versier.

Haar seun, SP, is met outisme gebore en die inkomste van die koeke help om vir die uitgawes van haar kind te betaal.

“Ons het op 18 maande agtergekom dat iets fout is. Hy kon praat, emosie toon en alles doen wat ander baba’s kon doen, maar hy het later opgehou praat en kon nie meer wys waar sy neus, ore of mond is nie,” het sy vertel.

SP is later met klassieke outisme gediagnoseer. Hy is nou nege jaar oud en moet nog steeds doeke dra.

Me. Kriek het as jong dogter reeds begin koek bak en baie daarvan gehou.

“My ouma Sarie het altyd vir die VLU-kompetisies koek gebak en sy het my alles geleer wat sy weet. Sy is nou 91 jaar oud en bak nog steeds beskuit.

“Ek het daarvan gedroom om eendag vir my kinders mooi en lekker koeke vir hul partytjies te bak. Dit het toe nou nie so uitgewerk met my kind nie.

Sy het eers net begin met botterversiering en dan fondant-vormpies bo-op.

Dit is eers in 2018 dat sy belsuit het om ‘n hele koek met fondant oor te trek.

“Om met fondant te werk, is glad nie so maklik soos wat dit op die televisie lyk nie. Jy moet baie versigtig werk en die klimaat speel ook nog ‘n groot rol. Fondant is ook baie duur en jy gebruik redelik baie vir ‘n koek.”

‘n Goeie vriendin het haar die inspirasie gegee om groter projekte aan te pak.

Omdat sy soggens werk, kan sy net middae en saans bak.

“Dit is soms moeilik om my werk gedoen te kry, maar ek werk om dit. Ek het maar geleer om eers alles te los en aan hom aandag te gee.

“Sodra hy weer rustig is, kan ek aangaan met wat ek moet doen.”

Wanneer me. Kriek klaar is met ‘n koek, stuur sy eerste vir haar ma ‘n foto, wanneer moeder sê dit is reg, stuur sy vir die kliënt ‘n foto.

Alles wat sy gebruik om die koek mee te versier, word met die hand gemaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button