Local newsNews

Willa verkoop steeds hout al is hy bykans 80

Bejaarde benodig bakkie om werk makliker te maak

SECUNDA – Inwoners sal mnr. Willem (Willa) Horn (79) herken waar hy langs die pad sit en hout verkoop.

Dié pensionaris sukkel steeds op sy ouderdom om stil te sit.

Hy het in die bosveld op ‘n plaas naby Ellisras grootgeword en mis steeds die plaaslewe.

Mnr. Horn het, nadat hy gematrikuleer het, voltyds geboer, maar moes in die sestigerjare toe droogte sy plaas getref het, van sy vee verkoop.

Hy moes toe begin werk om al sy skuld te delg en het die plaas vir die spoorweg op Polokwane verruil.

“Ek was ‘n kleinboer daardie tyd en kon nie dit bekostig om vir my vee voer aan te koop nie,” het mnr. Horn gesê.

Hy het uiteindelik die plaas verkoop.

“Die plaas was my lewe.”

Mnr. Horn het eers vir ‘n rukkie by Iskor in Pretoria gewerk voordat hy as kontrakteur op Sasol begin het.

Hy het destyds gehelp om fase 1, 2 en 3 van Sasol op die been te bring.

Mnr. Willem (Willa) en me. Bets Horn met hul jongste agterkleinkind, Willem Fulton.

Toe die projek van fase 3 bykans voltooi was, het die kontrakteur mnr. Horn en ander werkers aangeraai om vir ander werk te begin soek. Hy het in 1982 by Sasol begin werk tot 1999 toe hy met pensioen gegaan het.

Stilsit bestaan egter nie in mnr. Horn se woordeskat nie en vandat hy op die ouderdom van 59 afgetree het, het hy altyd homself besig gehou.

Hy het eers hondehokke gebou en dit verkoop en later plante en palmbome verkoop.

Mnr. Horn het egter groot skade gely met sy palmbome toe swartryp Secunda getref het.

“Hulle het 7nm op die televisienuus gesê daar kom daardie nag swartryp op Secunda en waar kry ‘n mens daardie tyd in die aand gaas of iets om jou palmbome te beskerm,” het mnr. Horn vertel.

“Ek het die volgende oggend gesien die swartryp was tot binne-in die palmbome se wortels.”

Hy het toe iemand ontmoet wat hout en houtskool veskaf en het toe besluit om dit te verkoop.

“Die Here is goed vir ons, ons het nog al die jare ‘n dak oor ons koppe en genoeg om te eet.”

Mnr. Horn staan naweke langs die pad en hout verkoop en die res van die tyd speel hy taxi vir sy agterkleinkinders.

“‘n Mens raak moeg met die houtverkopery en ek wou al ophou, maar ek weet nie wat sal ek dan met myself sal doen nie.”

Mnr. Horn en me. Bets Horn is al 50 jaar getroud en die egpaar het twee dogters oor nadat een van hul dogters, me. Liza van Bronburgh, in die ouderdom van 30 dood is aan ‘n bloedklont deur haar aorta in 2004.

“My dogter se dood was vir my ‘n groot terugslag in my lewe.”

Die Horn-egpaar het ook sewe kleinkinders en drie agter kleinkinders waarvan die jongste nog ‘n baba is.

“Dit is so lekker om kleinkinders en agterkleinkinders te hê.

“Ek het as kind nooit ‘n oupa of ouma geken nie, al my grootouers is vroeg in hul lewens dood.

“My een oupa is dood toe hy ‘n krygsgevangene op St. Helena-eiland was en my ander oupa is dood op die plaas toe hy deur ‘n luiperd verskeur is.”

Mnr. Horn het al twee pasaangeërs gehad en het gesê hy het ‘n baie stadige polsslag en dokters het eers gedink dit was omdat mnr. Horn baie fiks was.

“Een van die dokters het toe gesê dit kan nie weens my fiksheid wees nie, want nie eers Bruce Fordyce se polsslag was so laag nie en hy was topfiks.

“Die dokters het toe agtergekom dit is ‘n oorerflike toestand. My een dogter sukkel ook met dit.”

Mnr. Horn het, toe hy jonger was, in 1991 gereeld aan padwedlope deelgeneem en het selfs een keer die gewilde Comrades aangedurf, maar hy het nie klaargemaak nie.

“Ek het naby Pinetown geval en my dyspiere geskeur.

“Dit was ‘n groot teleurstelling vir my, want ek wou so graag die Comrades voltooi.”

Hy het wel twee keer die uitmergelende Karoo-marathon voltooi en het vertel van die padtekens langs die pad wat gelees het: Moordenaars Karoo.

“Daardie padtekens doen die wedloop se naam gestand,” het mnr. Horn gesê.

Hy moes later ophou hardloop weens sy hartprobleme.

Mnr. Horn geniet dit om te jag en te hengel.

Hy is ook ‘n ywerige voëlkyker.

Mnr. Willem (Willa) Horn met ’n skildery wat mnr. Pieter Bezuidenhout vir hom geskilder het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button