Mauritz Kruger gesels openhartig oor sy harde leerskool tydens dwelmverslawing
Die alombekende refrein dat jy net mense kan help, wat gehelp wil word, is deur hom onderstreep.
Mnr. Mauritz Kruger van Standerton maak nie ‘n moordkuil van sy hart oor sy dwelmverslawing, wat na ‘n harde leerskool, oorwin is nie.
“Ek is nou skoon,” het hy aan die Standerton Advertiser gesê.
“As jy wil skoon bly, moet jy alles verander.”
Die pad wat hy geloop het, het met pynmedikasie na ‘n motorongeluk begin voordat hy begin 2002 na ‘benzo’s’ en opiate oorgeslaan het.
Sy wangbeen en neus is in die ongeluk gebreek en hy moes ‘n knieoperasie ook ondergaan wat aanleiding tot die gebruik van pynverdowingmiddels gegee het.
‘n Werk moes ook prysgegee word weens sy verslawing.
“‘n Mens maak foute as jy te veel medikasie drink.”
Op ‘n dag kla jy jouself aan en wonder wat het van jou, as mens, geword met selfrespek wat lankal by die agterdeur uit is.
Mauritz het soms by ‘n rehabilitasiekliniek net ingeboek om te ‘detox’ en aan sy suster erken dat hy sy verslawing nie kon beheer nie.
By ‘n ander, meer intensgedissiplineerde oord in 2011, het hy ook ‘cold turkey’ gegaan.

Hy het tot ‘n mindere mate senuweeskade en het oomblikke van geheueverlies wat geensins sy oortuiging om sy lewe handomkeer te verander en so te hou, beïnvloed het nie.
“Ek het altyd ‘n manier gesoek om ander te help.”
Hy het hom sedertdien by die ‘Ububtu Academy of Coaching and Training’ in Johannesburg bekwaam om mense by te staan wat die hel van verslawing deurgaan.
Vertroulikheid tussen die opleier en kliënt is ononderhandelbaar en Mauritz fokus nie soseer op die psigologiese aspek nie, daarvoor sal hy mense na ‘n sielkundige op die dorp verwys, maar voeg waarde tot so ‘n situasie by.
Waardetoevoeging is spesifiek om mense skoon te hou en die doel van opleiding is om vorentoe te werk.
Hy verwys mense wanneer sielkundige aspekte mense weerhou van vorentoe beweeg en sodra dit uitsorteer is, word ‘n unieke plan daargestel om soberheid te behou.
Die alombekende refrein dat jy net gehelp kan word as jy gehelp wil word, is deur hom onderstreep.
Die stigma verbonde aan dwelmverslawing kan nie wegredeneer word nie juis vanweë die werking daarvan soos bedrieëry en diefstal om jou dwelm te bekom.
“Om terug te val, begin in jou kop.
“Die ondervinding word geromantiseer en dan val jy uitmekaar.”
Blaamverskuiwing is ook nie ‘n opsie nie.
“As jy ‘n plant lewendig kan hou vir ‘n jaar en dan ‘n troeteldier lewendig hou vir ‘n jaar, is jy orraait,” het hy mee afgesluit.




