Local newsNews

Bethalles maak ’n verskil deur te herwin

Dit is nooit te laat om met herwinning te begin nie. Dit is baie makliker as wat jy gedink het. Lees hier hoe jy kan help om die dorp te red.

BETHAL – Lesers sou die afgelope tyd verskeie artikels oor skoonmaakprojekte en vullis wat onwettig in die veld gegooi word, gelees het.

Wanneer jy op ‘n kleinskaal herwin, is dit nie winsgewend nie, maar dit help om die strate skoon te hou, die asgate leeg, en jy doen iets positief vir die natuur en jou dorp.

By die sentrum wat die glas, plastiek en blikkies aankoop, kry jy slegs 25c per kg vir glas.

In dié dorp is ‘n kleinskaalse herwinningswerf op jou voorstoep.

Enigiemand wat al na Bethal se asgate toe was of selfs net Standerton toe gery het, sal weet hoe dit by die asgate lyk.

Rommel lê die pad en spruit vol, en sakke waai oral rond.

Me. Irma Liebenberg het die inisiatief geneem om ‘n herwinningswerf op dié dorp beskikbaar te stel.

Sy het dit nie vir haarself begin of om geld te maak, maar wel om ‘n verksil te probeer maak.

“Wanneer almal net ‘n ‘maak skoon’-ingesteldheid het, sal dit klaar beter wees. Dit gaan nie vir my oor my nie, dit gaan oor die goed wat rondlê. Dit is vir my baie sleg dat mense nie nie hul rommel in asblikke gooi nie. Iets wat almal kan doen, is om skoon te maak,” het sy gesê.

Iets wat ook vir haar oplettend was, is dat mense makliker iets by die venster uitgooi of in die veld gaan gooi wanneer vuilgoed reeds rondlê, en daarom is dit juis so belangrik dat almal moet help skoon maak.

Waarom moet jy as inwoner help met herwinning?

Dit sal help om die vullis, wat op die asgate opeindig en ook asgate toe aangery moet word, met 50 persent te verminder.

Die vragmotors wat die vullis oplaai, sal meer plek hê omdat ‘n swartsak baie kleiner is wanneer plastiek en glas uit die sak gehaal word.

Jy kan help deur plastiek soos melkbottels, jogurtkoppies, botterbakkies net uit te spoel en in ‘n sak te sit.

Plaas enige ander plasiek wat jy dink herwin sou kon word eerder in die sak as wat dit dalk op die ashoop beland.

Alle glas is welkom, maar mayonaise- en tamatiesousbottels moet net skoon wees.

Proppies kan afgedraai word en in dieselfde sak gegooi word.

In Chris Hanistraat 75 is daar bordjies op wat wys waar die herwinningsverf is.

Jy kan net met die grondpaadjie tot binne ry en die sak daar los.

Op die oomblik het hulle vrywilligers nodig om bottels te help sorteer en plastiek plat te trap.

Restaurante, besighede en skole kan veral ‘n groot verskil maak om deel van die herwinningsproses te wees.

As jy moontlik ‘n vragmotor beskikbaar kan stel of vrywillig kan kom help, skakel of stuur ‘n boodskap na me. Irma Liebenberg by 082 978 9798.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button