Local newsNews

Raak deel van die groep om Megan (4) te steun

Die grootste risiko tans is dat haar rugstring teen haar hart en longe druk en normale groei stuit. Dit kan op die lange duur ook haar ander organe beskadig.

SECUNDA – Behalwe vir haar klein postuur, lyk dit op die oog af of Megan van Rheede van Oudsthoorn ‘n gewone skamerig, tog bekkige vierjarige is.

Dit is eers wanneer sy wegstap dat ‘n mens agterkom daar is groot fout met hierdie fyn lyfie.

“Haar ruggie is nou so krom, ek weet nie meer hoe om haar vas te hou nie,” het haar ouma, me. Lourette van der Watt, verduidelik.

Megan ly aan ‘n seldsame geval van progressiewe aangebore skoliose – ‘n toestand waar die rugstring in of ‘n S- of ‘n C-vorm groei. Dit is selde dat ‘n kind reeds op ‘n baie jong ouderdom met hierdie toestand gediagnoseer word, en dan is die spinale kurwe gewoonlik sowat 30 grade.

In Megan se geval, groei haar rug reeds teen ‘n 90 graad-kurwe.

Me. Lourette van der Watt wys hoe krom is haar kleinkind, Megan van Rheede van Oudtshoorn se rug.

Die grootste risiko tans is dat haar rugstring teen haar hart en longe druk en normale groei stuit. Dit kan op die lange duur ook haar ander organe beskadig.

‘ n Dringende operasie is die enigste oplossing om Megan se rugstring te stabiliseer en om verdere misvorming te voorkom.

Haar ouers, mnr. Charl en me. Marilanda van Rheede van Oudtshoorn het nie ‘n mediese fonds nie. Die egpaar woon in eMalahleni, maar hulle het nou bande op Secunda waar me. Van Rheede van Oudtshoorn grootgeword het.

Die operasie gaan sowat R600 000 kos. Dit sluit nog nie die uitgawes in wat vir die nasorg benodig gaan word nie, soos ‘n spesiale bed, ‘n rugstut en fisioterapie nie.

Die oogmerk is om die operasie so gou moontlik te laat doen. Daar is reeds ‘ n rekening by Faerie Glen-hospitaal geopen en enige geld wat ingesamel word, word in dié rekening inbetaal.

Megan is tans nog ‘n aktiewe klein dogtertjie wat lief is vir swem en fietsry, maar volgens Ouma Lourette begin die krom ruggie al hoe meer ongemaklik raak en het Megan al van pyn begin kla.

Die skattige Megan van Rheede van Oudtshoorn kuier saam met haar ouma, me. Lourette van der Watt, in Oregon Spur. Sy moet dringend ‘n rugoperasie ondergaan.

Sedert hulle sowat ‘n maand gelede van Megan se hulpkreet gehoor het, het ‘n groep van kollegas by ‘n konstruksie-maatskappy in Secunda, Southey, saamgespan om die nodige geld vir die operasie in te samel.Hulle het reeds met ‘n WhatsApp-groep “Lets back Megan” begin.

Die groep is ideaal vir mense wat van hul ongewenste items of wit olifante ontslae wil raak, of vir diegene wat altyd na ‘n winskopie op soek is.

Mense word genooi om enigiets wat hulle nie meer wil he nie, vir die groep te skenk wat dan opgeveil word. Die koper betaal dan vir die item deur geld in die hospitaal-rekening te betaal. Die kollegas samel ook gereeld onder ander kollegas geld in om aan liefdadigheid te skenk.

Dié span hou vandeesweek ‘n gholfdag by Graceland, en dit is maar net die begin van groot dinge. Verskeie mense is al betrokke en hulp word selfs vanuit Pretoria en Sasolburg aangebied.

Daar lê voorentoe ook ‘n hengelkompetisie met reuse pryse, ‘n padwedloop, ‘n bergfietswedren en selfs ‘n sosiale aand in Pretoria voor.

Die Oregon Spur in Secunda Mall het ook ‘n paar planne in die mou waarmee hulle gaan help om geld vir Megan se operasie in te samel.

Vir meer inligting, om deel van die WhatsApp-groep te word, of hoe om betrokke te raak, skakel vir mnre. Johan Steyn by 082 909 9181 of Johan Cosmo by 064 756 4994.

Megan van Rheede van Oudtshoorn kuier saam verlede week saam met haar ma, me. Marilanda van Rheede van Oudtshoorn, en ouma, me. Lourette van der Watt in die Oregon Spur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button