Pat Keyser (78) van Bethal stel sy eerste digbundel vry
Ouderdom stuit hom nie en hy het vanjaar sy eerste digbundel, Mymeringe vrygestel. Hy woon reeds die afgelope 40 jaar op Bethal hoewel hy in 1941 in Christiana gebore is.
BETHAL – Mnr. Pat Keyser het reeds 78 ryp jare op sy lewenskerfstok.
Ouderdom stuit hom nie en hy het vanjaar sy eerste digbundel, Mymeringe vrygestel.
Hy woon reeds die afgelope 40 jaar op Bethal, hoewel hy in 1941 in Christiana gebore is.
Sy kinderjare is in Kroonstad deurgebring en hy het in 1958 by die Lugmaggimnasium aangesluit.
Inspirasie vir die digbundel het gekom nadat hy gesukkel het om die dood van sy vrou, Miems, in 2016 te verwerk.
“Ek het verstroosting in die skrywe gevind. Ek het nie die boek gepubliseer omdat ek wou geld maak nie. Ek wil graag hê mense moet dit vir die geestelike waarde lees,”
Gedurende 2017 en 2019 het hy ‘n reeks geestelike, sowel as kontemporêre gedigte geskryf.
Van dié gedigte het ook ‘n meer humoristiese kant.
Hy wil graag ander bejaardes bemoedig om nie net te sit en vir die dood te wag nie.
“Moenie wanneer jy oud is, dink jy is niks meer werd nie. Jy kan nog steeds kreatief wees. Die grootse fout wat mense maak, is om net te sit en wag tot hulle dood gaan. Dit is soveel tyd wat gemors word.”
Sy boek is vir mense wat allerlei dinge van die lewe moet verwerk.
Hy hoop om met sy geestelike gedigte lesers te bemoedig wanneer hulle in ‘n stryd met hulle omstandighede is.
“Daar is te veel druk deur persoonlike probleme op baie mense en die boodskap wat ek wil oordra, is dat daar altyd hulp vir hulle is. Dit is nie sedepreke nie, maar uit my hart uit.”
Sy kleindogter, me. Rijna Keyser, het vir die voorbladskets gesorg.
Haar oupa het haar gevra om ‘n skets te maak van iemand wat mymer.
Van sy gedigte is selfs herinnering van toe hy net agt jaar oud was.
Radio Kragbron het al ‘n hele paar van sy gedgite uitgesaai.
Mnr. Keyser het in Bethal by ‘n skool ‘n klas oor gedigte aangebied.
“Dit was groot pret en ek sal dit beslis weer doen. Ek wil ook graag vir ander bejaardes wat nie meer self kan lees of sien nie, voorlees. Hoe ouer jy word, hoe wyser word jy en mense besef nie dat hulle daardie wysheid weggooi nie. Dit moet oorgedra en uitgeleef word, nie sterf in ‘n oue-tehuis nie.”
Die bundel Mymeringe is nou by die N17 Diner beskikbaar.
Jy kan ook vir mnr. Keyser ‘n e-pos stuur as jy belangstel by: keyserins@vodamail.co.za



