Kosmos Aftree-oord stel propvol program in die vooruitsig
Hy het ’n vraag of daar verteenwoordiging van die huiskomitee op die direksie sal wees, beantwoord deur te noem dat beskermingsmeganismes ingebou moet word deur almal se belange in ag te neem.
Kosmos Aftree-oord het op Donderdag 16 Januarie om 2nm in die sitkamer vergader waar die samesprekings wat met die direksie gevoer is, bekendgemaak en toekomstige funksies en geleenthede bespreek is.
Die voorsitter van die tehuis, mnr. Jack la Grange, het gesê dat ooreengekom is dat die huiskomitee, oftewel die lewensregkomitee, en die direksie die pad vorentoe sal bepaal met die direksie in beheer van die ouetehuis.
Ds. Rian Botha, voorsitter van die direksie, het later in die vergadering daarop gewys dat die tehuis deur die gemeenskap tot stand gebring is en as instelling van die gemeenskap funksioneer.
Hy het ‘n vraag of daar verteenwoordiging van die huiskomitee op die direksie sal wees, beantwoord deur te sê dat beskermingsmeganismes ingebou moet word deur almal se belange in ag te neem.
Die bestuurder het die twee groepe bedank, wat volgens hom,’n deurbraak bewerkstellig het.
“Ons moet tevredenheid by die publiek skep dat dit ‘n goed bestuurde instelling is,” het hy bygevoeg.
Direksielede wat onlangs bedank het, is me. Arista van der Merwe, mnr. André du Plessis en mnr. Herman van der Nescht, terwyl daar ook bedankings van administratiewe personeel was.
Mnr. La Grange het beklemtoon dat daar in die verlede nie genoeg tyd bestee was om doeltreffende voorbereiding vir funksies te tref nie.
Die tehuis stel ‘n propvol program in die vooruitsig wat bywoning by die Recce-dag op 29 Februarie insluit, die ‘Touch of Class’-vertoning op 30 Mei, maandelikse vetkoekverkope waarvan die eerste op 31 Januarie plaasvind, die jaarlikse basaar in Oktober, asook voelers uitsteek wanneer ‘n gholfdag aangebied kan word.
Funksies sal in die eetsaal gehou word vir onder meer Valentynsdag, Moedersdag, Vadersdag, Pase en Kersfees.
‘n Groot bederf word ook beplan om kultuurliefhebbers na die ‘Wakkerstroom Festival’ in Maart te vervoer.
Die program en kaartjiekoste sal binnekort aan inwoners gegee word.




