Local newsNews

Giel en Marie trek terug na Johannesburg

Sy het met tussenposes oorgeborrel van die avontuur wat op hulle wag, met anekdotes oor wat die kinders sê, terwyl die teoloog rustiger hul lewe in oënskou geneem het.

Ds. Giel Roux en sy eggenoot, Marie, skaal af, wat eintlik beteken dat hulle hulself in Northcliff in die Goudstad gaan ontplooi.

Dié bekende egpaar het sedert einde 2008 Standerton hul tuiste gemaak en die besluit om te verhuis, is nie ligtelik geneem nie.

“Met die aanstap van die ouderdom, trek ons graag terug Johannesburg toe om ‘n nuwe fase te begin,” het ds. Giel laat blyk.

“Dit is swaar om mense agter te laat, sowel diegene wat ons ken, asook ons kinders op die dorp,” het Marie bygevoeg.

Sy het met tussenposes oorgeborrel van die avontuur wat op hulle wag, met anekdotes oor wat die kinders sê, terwyl die teoloog rustiger hul lewe in oënskou geneem het.

Hulle sal naby die oudste seun, Francois, bly, met Marie wat slaggereed is om die tuiste met ‘n nuwe kleurskema hul eie te maak.

Sy het vir die nuwe huis nuwe skilderye, uit haar palet, geskilder.

“Ons gaan terug met ‘n verwagting dat dit stimulerend en opwindend sal wees,” het Marie gesê.

“Vir die onmiddellike toekoms is planne gesmee om te reis en ‘n besoek aan Namakwaland met sy plaat blomme word in die vooruitsig gestel, asook ‘n seevakansie saam met al die kinders.

“Ons gaan baie vakansie hou.”

Vir Giel is die nuwe fase ook ‘n nuwe uitdaging en roeping en die Rouxs sal weldra by ‘n gemeente inskakel.

“Ek beskou my eerste Pinksterdiens in 2009, met die tema, ‘dink buite die boks’, as ‘n geloofshoogtepunt,” het Giel bygevoeg.

Die stad se kulturele bedrywighede soos teater- en kooropvoerings sal nie meer ‘n uitstappie vanaf die platteland behels nie.

Marie se ondervinding as koorafrigter by Laerskool Louw Geldenhuys in Linden, Johannesburg en by Stannies en Giel se liefde vir musiek, laat hul dalk met geoefende ore na koorsang luister.

Nog ‘n hoogtepunt vir albei was om ‘n tyd gelede met die Capital Singers in Pretoria te kon optree, saam met die Afrikaanse sanger, Corlea.

Kleindogter, Lisa, dogter, Marise en skoonseun, Dirk van der Wath van Standerton, sal geredelik die pad aandurf om dalk ook die res van die sibbe, almal stadsjapies, en nefies en niggies te sien.

“Ek het vir etlike jare by Laerskool Standerton onderwys gegee en my vriendskap met kollegas, betrokkenheid by kultuur en revue sal altyd uitstaan,” het Marie laat blyk.

Giel het die bekwaamheid van die vroulike lidmate van die NG Moedergemeente hoog aangeskryf.

“Daar is ongelooflike begaafde vroue in die Klipkerk wat bykans enige projek, ongeag hul ouderdom, suksesvol kan reël,” het hy gesê.

“Dié gemeente staan op vaste fondamente, moontlik nie in getalle nie, maar wel in krag.”

Giel, die Comrades Marathon-veteraan, is vasberade om weer te begin oefen en skat dat hy in sy hardlooploopbaan 20 000km afgelê het.

Marie mag dalk saamgaan na ‘n parkrun in die stad en sy wil weer graag by ‘n skildergroep betrokke raak.

“Ek gaan my skildergroep op Standerton baie mis en moet ook nie vergeet van die vriendskapsbande, wat in Johannesburg behoue gebly het nie,” aldus Marie.

Hulle het die onderhoud afgesluit met verwysing na albei se persoonlike groei op die dorp:

“Dankie vir die vorming en verryking wat ons kon ervaar, ” was die egpaar se opsomming.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button