Prokureursfirma op Standerton sit ryke geskiedenis voort
Die geskiedenis van dié firma en hulle banktransaksies dateer terug na 1880 en Standard Bank het ’n eeu later aan wyle mnr. Piet van den Berg en mnr. Nel elk ’n horlosie oorhandig, en die grootboek waarin per hand geskryf is, word in die bank se museum bewaar.
Mnr. Lourie Nel en twee regsvroue, mee. Marise van der Wath en René van der Merwe, is nou aan die stuur van sake by Langeveldt en Nel Prokureurs op die dorp.
Hoewel hulle reeds sedert Oktober op dié wyse werksaam is, is daar hoegenaamd geen verskil aan kontakbesonderhede, hetsy e-pos of telefoonnommers nie.
Die vroue se alma mater is die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit waar die twee koshuisbrakke van onderskeidelik Benjemijn en Skoonveld, mekaar skrams raakgeloop het, terwyl Olienhout by die Universiteit van Pretoria mnr. Nel se tuiste tydens sy studiejare was.
Die geskiedenis van dié firma en hulle banktransaksies dateer terug na 1880 en Standard Bank het ‘n eeu later aan wyle mnr. Piet van den Berg en mnr. Nel elk goue ‘n horlosie oorhandig, en die grootboek waarin per hand geskryf is, word in die bank se museum bewaar.
Die firma in Mbonani Mayiselastraat spog met hul eie biblioteek van hofsake, wat die regspraktisyns op datum hou.
Mnr. Nel het in 1971 by Langeveldt en Nel Prokureurs aangesluit en die verskillende vennote het sake glad laat verloop met die mees onlangse afsterwe, dié van mnr. Punch Langeveldt.
Op die vraag of daar so bietjie vlinders in die maag is voordat jy in die hof ‘n saak moet behartig, was die driestuks eenstemmig dat dit wel die geval is.
“As jy die dag nie meer vlinders het nie, moet jy bekommerd wees,” is aan wyle Punch toegevoeg.
Werksbevrediging sentreer vir Lourie daarin om regte te herstel.
“Om reg te laat geskied aan iemand wat verontreg is, is die lekkerste,” het Lourie gesê.
“Ek put bevrediging daarin om kliënte te help wat te na gekom is.”
Volgens hom is prokureurs op die platteland vergelykbaar met ‘n algemene huisdokter en aktes en derdepartyeise is nou sy kos.
René het aangedui dat haar belangstellingsveld om aktes draai.
“Suksesvolle afhandeling van ‘n registrasie spreek tot my wese,” het sy gesê.
Marise slaag daarin om haar liefde vir mense en regsgeleerdheid te kombineer en het aangesluit by René dat die suksesvolle afhandeling tot werksbevrediging lei.
“Dit is lekker om ‘n boedel, litigasie of aangeleentheid af te handel,” het sy gesê.
Op die tuisfront is aldrie besig.
Lourie en Sonnette is die trotse grootouers van vyf kleinkinders, René en Thinus se spannetjie bestaan uit drie kinders en Marise en Dirk is ‘n dogtertjie ryker.
“Ek is trots om deel te wees van dié firma,” het Lourie mee afgesluit.
“Punch se afsterwe het ‘n leemte gelaat, maar daar is gewis kontinuïteit.
“Ons is dankbaar vir die publiek se volgehoue ondersteuning en opgewonde oor wat die toekoms vir die firma inhou.”




