Anton Pretorius hou sy lyf boer en sakeman
Die Pretoriusse se tuin is ’n lushof en die erf spog met hoenders, ganse, tarentale en sierduiwe wat te koop aangebied word.
Die Standerton Advertiser het die voormalige melkboer, mnr. Anton Pretorius, die kuns gaan afvra oor sy huidige bedrywighede en is op heelwat verrassings trakteer.
Gewis ‘n boerdery in die kleine hier op die dorp en toevlugshawe vir diere, asook voëls.
Nie alleen het die hansgrootgemaakte kolgansie, Kosie, geraas en geblaas nie, kamerasku geraak en net met oupa Anton gesels nie, maar ook het buurvrou en assistent, me. Mariska Fourie se troeteldier, Saartjie, die wyk geneem nadat die vreemde kamera gewaar is.
Die kleinerige broeikas vir die tarentaaltjies en genommerde tarentaalhokke getuig van deeglike beplanning.
Anton en Mariska is druk besig, veral vanaf Maart tot Mei, terwyl dragtigheidstoetse en kunsmatige inseminasie en die brand en ontdoring van kallers ook op die agenda is.
“Tussen daardie maande moet jy wakker wees en hardloop,” het Anton gesê.
Mariska werk reeds byna sewe maande vir hom en hul gebied strek sover as Machadodorp om sowat 30 boere by te staan.

Een van Mariska se vakke by Hoërskool Hoogenhout op Bethal was juis landbou en sy kan dalk in Maart by die Boerperd Mpumalanga Streekskou ander ruiters die loef afsteek.
Die Pretoriusse se tuin is ‘n lushof en die erf spog met hoenders, ganse, tarentale en sierduiwe wat te koop aangebied word.
Die groentetuin na agter is onder meer waar tamaties, spinasie en druiwestokke geplant is en die boontjies, uit die tuin, was vir groente dié aand bestem.
Anton se eggenoot, Marietjie, ‘n onderwyser by Standerton Akademie, kan haar hart nie daaroor kry om ‘n verwaarloosde kat te ignoreer nie.
“Daar is maar altyd plek vir ‘n dier,” het Marietjie gesê.
Sheldon die Engelse kat, net maar ‘n week inwonend, deel aandag met nog ‘n kat en twee honde, terwyl die wilde katte se getal tans op vier te staan kom.
“Ek moet iets om my hê wat lewe,” het Anton bygevoeg.
“As jy op ‘n plaas gebly het, dorp toe trek en niks om jou het nie, sal jy mal word.”
Anton en Marietjie het ses kinders, waarvan een oorlede is, met sewe kleinkinders wat reeds hul opwagting gemaak het.
“Die kleinkinders kan woelig raak as hulle bymekaar is en dan roer hulle jou,” het Anton met kwalik-bedekte trots gesê.
Die onderhoud is met tipiese boeregasvryheid oor ‘n koppie koffie afgesluit om gou ook te verneem van dese en gene se welstand.




