Elizabeth Danhauser het hulp nodig met verswakte man
Beroertes en aneurisme laat man verlam en verswak
TRICHARDT – Mnr. Nick Danhauser, ‘n dieselwerktuigkundige, het in 2006 sy been verloor toe sy vierwielmotorfiets om ‘n draai op hom geval het.
Sy gesondheid het egter in 2013 weens ‘n aneurisme drasties agteruit begin gaan.
Sy vrou, me. Elizabeth Danhauser, wil hom nie na Evander Hospitaal neem nie, want sy glo hy sal nie lewend daar uitkom nie.
Die egpaar het in 2013 nog op Middelburg gewoon toe mnr. Danhauser die aneurisme gekry het.
Me. Danhauser het vanaf die werk by die huis gekom en hom op hul badkamervloer aangetref. Hy het nie gereageer as sy met hom gepraat het nie. Sy het hom na Middelburg Hospitaal geneem.
Hy is vir breinvliesontsteking behandel, maar drie dae later was hy steeds deurmekaar en kon nie praat of eet nie.

Mnr. Danhauser is eers na Witbank Hospitaal en later na Steve Biko Hospitaal oorgeplaas waar die dokters agtergekom het hy het ‘n aneurisme gehad.
Hy moes naderhand ‘n omleiding (shunt) in sy brein kry.
Hy het ná dié operasie nog ses maande in die hospitaal deurgebring en was op doeke en kon nie self eet nie.
Dokters het in 2014 ‘n angiogram gedoen en opgemerk dat daar steeds ‘n aneurisme in een van die hoofare by sy breinstam was.
Mnr. Danhauser het uiteindelik, drie maande later, ‘n induksieklos (coil) in sy brein gekry.
Terwyl dokters egter die operasie uitgevoer het, het mnr. Danhauser ‘n beroerte gehad. Dit het die regterkant van sy gesig verlam.
Hy kon nie sluk nie en sy spraak is nog verder aangetas.
Mnr. Danhauser het vir rehabilitasie gegaan waar hy van vooraf moes leer praat en eet, maar hy kon egter nie weer loop nie.
“Die personeel was fantasties en hy kon daarna self sy tande borsel, eet, aantrek en bad,” het me. Danhauser gesê.
Mnr. Danhauser is aan die begin van 2015 uiteindelik huis toe en was nog bietjie swak en deurmekaar, maar hy kon homself help.
Volgens me. Danhauser, het hy in dié tyd selfs weer begin lees en het met een hand goed uit hout en staal gemaak.
Die egpaar het in dié tyd na Trichardt verhuis. Hulle het een dag op die stoep gesit toe mnr. Danhauser weer ‘n aanval gekry het.
By Witbank Hospitaal het hulle gehoor mnr. Danhauser het weer beroerte gehad en dat daar niks meer was wat vir hom gedoen kon word nie.
Hy is huis toe gestuur.

Me. Danhauser het vir hom spesiale melkskommels gegee omdat hy nie meer kon eet nie.
“Hy kon naderhand ook nie meer baie van die melkskommels drink nie en het al hoe maerder geword.”
Hy het verder verswak en me. Danhauser het hom na Evander Hospitaal geneem.
By dié hospitaal het mediese personeel gesê hulle kan niks vir hom doen behalwe om hom op ‘n drup te sit en voeding te gee.
Me. Danhauser het egter, wanneer sy tydens besoektye gaan kuier het, gemerk dat die sakkies van die drup en voeding nie geruil word nie.
“Hy sou doodgaan in daardie hospitaal.”
Sy het gevra of sy hom eerder huis toe kon neem en het hom hierna weer na Witbank Hospitaal geneem, maar hulle kon haar ook nie help nie en het gesê hy moet eers ‘n verwysingsbrief vanaf Evander Hospitaal kry.
“Ek het begin vermoed hy het ‘n probleem met sy bors, want ek kon hoor hoe hy roggel en hyg as hy asemhaal.
“Ek het heeltyd vir die personeel by Evander Hospitaal gesê daar is fout met sy bors, dit het geklink of daar slym of vog op sy bors is.
“Eers toe hy verstik het in sy slym, het die suster gekom met ‘n masjien en die slym opgesuig.”
Ná weke se gesukkel en oproepe kon me. Danhauser uiteindelik vir haar man ‘n afspraak by Witbank Hospitaal kry.
Hy het ‘n drup gekry, maar die personeel by Witbank Hospitaal het steeds ‘n verwysingsbrief van Evander Hospitaal benodig.
Intussen het mnr. Danhauser se bors steeds agteruit gegaan en me. Danhauser het hom na Evander Hospitaal se ongevalle geneem waar ‘n dokter uiteindelik X-strale van sy borskas geneem en antibiotika vir ‘n infeksie voorgeskryf het.
Sy het haar man huis toe geneem, maar sy soek nou ‘n dokter wat sal kan help om tuis vir mnr. Danhauser antibiotika te gee.
Me. Danhauser het voorheen voltyds gewerk, maar moet nou tuis bly om haar man te versorg.




