Lizette Jansen van Rensburg woeker met haar hande
Dié gebore Kapenaar het dit onomwonde gestel dat tegniese vaardighede altyd nodig in Suid-Afrika sal wees, wat ook ander moontlikhede inhou.
Me. Lizette Jansen van Rensburg het ‘n tradisioneel-manswêreld betree en is ‘n fasiliteerder vir vakleerlinge wat ingeskryf is as elektrisiëns by die Gert Sibande Kollege op Standerton.
Haar ambag is reeds in 1992 verwerf en sy het grondige ondervinding opgedoen nadat sy by verskeie myne werksaam was, met Duvha-oopgroefmyn in eMalahleni waar haar opleiding geskied het.
Lizette het in November 2016 by die kollege aangesluit en lei sowat 15 studente in ‘n klas op om hul vakleerlingskap suksesvol te voltooi.
Dit behels ‘n ses-maande-tydperk by die akademie en 18-maande-tydperk weg van die akademie, wat op praktiese vlak beteken dat studente gedurig kom en gaan om hul 24 maande te voltooi.
“Jy moet tegnies bedrewe wees en uiteraard weet wat jy doen,” het Lizette laat blyk.
Dit was onnodig om te vra of sy self haar kragproppe in die huis nagaan en herstel.
Sy het ook aangemeld by die parkrun by Standerton Rivierpark en het reeds 44 keer die roete gestap en sou Saterdag 1 Februarie vir die 60ste keer as vrywilliger optree.
“Ek loop want dit is vir my lekker,” aldus Lizette.
Haar seun, Séan, se 80’s-musiek by sekere punte op die roete, laat baie deelnemers daardie ietsie ekstra insit.
Lizette het in 1988 aan HTS Witbank gematrikuleer en die gesin het in 2016 na Standerton verhuis.
Dié gebore Kapenaar het dit onomwonde gestel dat tegniese vaardighede altyd nodig in Suid-Afrika sal wees, wat ook ander moontlikhede inhou.
“Ek het juis vir ‘n groep vroue in die werkwinkel aangemoedig om hul eie onderneming, al is dit aanvanklik klein, te begin.”
Daar gaan maklik jaarliks sowat 120 studente onder haar hande deur in dié kollegevak.
Ook is sy heel tuis in die kombuis met die bak van koeke en kolwyntjies en haar afsetgebied, vanweë haar werk, is op die stadium nie groot nie.
Vir brei, hekel, borduur en kralewerk vir die maak van juwele, deins sy nie terug nie en op die koop toe, kan sy unieke kaartjies vir enige geleentheid maak.
“As daar ‘n vlooimark is, sal ek van my produkte verkoop,” het Lizette gesê.




