Riekie Wolmarans hou rekening met die toekoms
Haar naam is welbekend in skaakkringe en dié sport het gesorg dat sy in Kaapstad in Desember verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse Senior Geslote Kampioenskap deelgeneem en ’n agtste plek behaal het.
Me. Riekie Wolmarans, skrander oud-leerling van Hoërskool Standerton, is vanaf middel Januarie werksaam by VDM Ouditeure as ingeskrewe klerk.
Haar oogmerk is om haar kwalifikasies as geoktrooieerde rekenmeester te voltooi.
“My motivering om te begin werk was om die gaping tussen teorie en die praktyk aansienlik te verminder,” het Riekie gesê.
Sy het sewe onderskeidings verlede jaar verwerf en op ‘n distriksprysuitdeling Vrydag 17 Januarie die trofee ontvang vir die beste presteerder in Afrikaans huistaal, asook ekonomie.
Riekie het ook op 8 Januarie ‘n trofee ontvang as beste ekonomie-leerder in Mpumalanga, en haar onderskeidings is by die Sasol Top Achievers-funksie op 16 Januarie beloon.
Met studenteregistrasie vir vyf vakke in die eerste semester wat by Unisa afgehandel is, het sy nie juis tyd vir kerjakker nie.
“Ek bestee tussen twee tot drie ure gemiddeld in die aand aan my studies,” het sy ook gesê.

Haar naam is bekend in skaakkringe en dié sport het gesorg dat sy in Kaapstad in Desember verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse Senior Geslote Kampioenskap deelgeneem en ‘n agtste plek behaal het.
Skaak SA reik jaarliks ‘n Grand Prix-lys uit en Riekie is eerste op hierdie lys van die 0/20-meisies en sy het Ekhurhuleni verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse
Juniorspankompetisie as Bord 1 van die 0/20 A-span.
Die spanning voor ‘n wedstryd, wat kan wissel tussen ‘n minuut lank tot vyf ure, loop gewoonlik hoog.
“Ek het maar vlinders op die maag dié oggende,” het Riekie erken.
Haar skaakloopbaan het haar al die vreemde laat sien en Slowakye, Griekeland, Egipte, Indië en Kenia tel onder haar bestemmings.
“Ek was 14-jaar-oud toe ek vir die eerste keer oorsee was en na Nieu-Delhi gereis het.” Sy het ere-kleurebalkies op haar skoolbaadjie vertoon vir skaak, akademie en redenaars en is steeds betrokke by redenaarskompetisies met die skryf van toesprake vir die ATKV s’n.
Haar beoordelaarskursus is in September verlede jaar voltooi.
“Juffrou Annanet Boshoff van SHS het my vanaf gr. 8 aan onvoorbereide toesprake laat oefen.”
Of sy nou destyds sakgeld verdien het deur die skryf van letterkundenotas om vir skaaktoernooie te betaal, of ‘n leerder of wat touwys in rekeningkunde gemaak het, haar program is besig.
Riekie Wolmarans sien kans vir baie, is voor die rekenaarskerm op kantoor werksdae, agter die lessenaar saans en ruim tyd in vir skaak oor naweke.




