AfriForum sny gras en verf straatname op Bethal
Sluit by AfriForum aan en hef jou dorp op
BETHAL – AfriForum se tak op Bethal het verskeie projekte gedurende die feestyd aangepak en een daarvan was om strate se name oor te verf.
AfriForum het dié projek op Donderdag, 9 Januarie afgehandel.
Mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het gesê: “Die projek is aangepak om die prag van die dorp te herstel, maar ook omdat nooddienste sukkel om adresse op te spoor as die straatname so onduidelik is.”
Volgens mnr. Bekker gaan AfriForum vanjaar dié projek in ander dele van die dorp voortsit.
Lede van AfriForum het verlede week ook grassnyprojekte op Bethal gedoen en die gras by Bethal Polisiestasie en die N17-hoofweg gesny.
“As ons nie nou ingryp nie, gaan die parke en sypaadjies nie meer bruikbaar wees nie,” het me. Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak, gesê.
AfriForum op Bethal maak weekliks 30 vullisdromme in die sentrale sakekern skoon om die dorp netjies te hou en hulle beplan om die Nestlé-brug ook weer netjies te maak en op te knap.
Vir meer inligting, skakel mnr. Bekker by 081 217 6091.
Om by AriForum aan te sluit, sms die woord ‘Bethal’ na 45350. ‘n Sms kos R1.




