Local newsNews

Nichlaas Kourie raak pad byster en land per abuis op Bethal in veertigerjare

Basil het vertel hoe sy pa met ’n beplande tog van Lebanon na Amerika op Bethal beland het.

BETHAL – Te danke aan sy pa, Nichlaas Kourie, woon mnr. Basil Kourie reeds van 1941 op dié dorp.

Hul van word eintlik Khoury gespel, maar om uitspraak te vergemaklik, het hulle dit na Kourie verander.

Sy pa het diep – en baie – spore getrap om hulle daar gevestig te kry.

Mnr. Kourie het vertel hoe sy pa met ‘n beplande tog van Lebanon na Amerika op Bethal beland het.

“My pa is in 1883 in Lebanon gebore. Omdat dit gevaarlik in Lebanon was en hulle gesukkel het om werk te kry, het hy en sy twee broers besluit om Amerika toe te gaan.”

Dié drie broers het met ‘n passasierskip gevaar tot waar die skip tot stilstand gekom het. Hulle was onder die indruk dat hulle reeds in Amerika aangekom het, en het afgeklim.

Minwetend het die skip egter in Delagoa-baai anker gegooi.

Met baie min geld en geen vervoer het hulle Johannesburg toe begin stap.

“Nie een van hulle kon Engels of Afrikaans praat nie. Frans en Arabies is hoe hulle kon kommunikeer. Hulle het ‘n bietjie kruideniersware gekoop en verkoop om aan die lewe te bly. Later het hulle ‘n muil en trollie gekoop waarmee hulle besigheid in Johannesburg gedoen het. Mettertyd het hulle Afrikaans en Engels aangeleer.”

Een van die broers het in Johannesburg agter gebly, terwyl Nichlaas en die ander broer verder deur die land tot op Machadodorp getoer het.

“Hulle het op Machadodorp ‘n klein winkel oopgemaak waar hulle iets van alles verkoop het. Op hulle reis het hulle ‘n plaas op Halfgewonen gesien. Dié plaas is so 3km buite Bethal op die Middelburgpad geleë. Hulle het in 1916 die plaas vir een pond, twee shillings en ‘n sikspens gekoop. In daardie dae was dit baie geld. So 20km buite Bethal het hulle later 50 morge langs die Olifantsrivier gekoop.”

Die Kourie-broers het toe ‘n winkel langs die rivier opgesit waar die poskantoor en telefoonsentrale was.

Hulle het twee maal ‘n week te perd Bethal toe gegaan om voorraad te gaan koop. Al die boere in die omgewing het by hulle aankope gedoen omdat hulle van implement tot gereedskap, kruideniersware en klere verkoop het.

Nichlaas is in 1928 getroud en sy kleinseun, ook Basil, het wel uiteindelik die tog na Amerika voltooi. Hy studeer tans in die VSA.

“Ons huis is nog vol oudhede en boeke wat in die winkel gebruik was. Ons het al Lebanon besoek en dit was ‘n wonderlike ondervinding, ” het mnr. Basil Kourie (snr.) vertel. Hy woon steeds gelukkig op Bethal saam met sy vrou en dogter.

‘n Ou kiekie van mnr. Basil Kourie se pa, mnr. Nichlaas Kourie (links) op die stoep van die ou plaashuis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button