Kosmosrand se ATKV maak harte warm
Voorsitter nooi belangstellendes na algemene jaarvergadering op 25 Februarie.
SECUNDA – Die ATKV Kosmosrand-tak het op Vrydag, 14 Februarie Valentynsdag-sjokolade aan die gemeenskap uitgedeel.
Me. Tracey van Wyk, voorsitter van dié tak, en ander vroue van die tak het verlede week verskeie skole op Secunda en Trichardt besoek en die sjokolade spesifiek vir die ontvangsafdeling van die skole uitgedeel.
Dié skole sluit in Hoërskool Secunda, Hoërskool Oosterland, Laerskool Secunda, Laerskool Goedehoop, Laerskool Trichardt, Laerskool Kruinpark en Curro Secunda.
Dié ATKV-tak se Winterwarmprojek skop ook binnekort af.
Me. Van Wyk het gesê inwoners en ondernemings kan nou reeds skenkings gee sodat dit betyds is voordat die winter begin.
Met dié projek poog die ATKV om vir elke behoeftige kind ‘n groot kospak vir die winter skoolvakansie te gee.
Sy het die gemeenskap bedank vir hul voortdurende ondersteuning aan dié projek en gesê hulle het verlede jaar 86 kospakke uitgedeel, maar die behoefte is groot.
Die ATKV Kosmosrand-tak se algemene jaarvergadering vind op Dinsdag, 25 Februarie om 7nm plaas.
Enigeen is welkom om dit by te woon, maar moet hul bywoning bevestig.
Vir meer inligting, of om die ATKV se Winterwarmprojek te ondersteun, skakel me. Van Wyk by 074 103 6381.




