Besoek dokter, arbeidsterapeut en oudioloog onder een dak op Bethal
Baba se ontwikkeling begin al in die ma se maag
BETHAL – Dr. Larika Potgieter, ’n algemene praktisyn, het onlangs by me. Melissa van Rensburg, ’n arbeidsterapeut, en me. Elri de Jager, ’n oudioloog, se praktyk op Bethal aangesluit.
Dié oud-leerlinge van Hoërkool Hoogenhout het gesien baie Bethallers ry na buurdorpe om ’n dokter, oudioloog of arbeisterapeut te sie nen besef hulle kan dié dienste vir mense op Bethal aanbied.
Me. Van Rensburg en me. De Jager het hul praktyke drie jaar gelede oopgemaak en dr. Potgieter is sedert Oktober verlede jaar deel van dié span.
Al drie vroue het op Bethal grootgeword en het ná skool aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) studeer.
“Ons praktyke is gesinsgeörienteerd,” het me. Van Rensburg gesê.
“Hiér is min hulpbronne op Bethal, dus het ons besluit om die praktyke hier oop te maak.”
Dr. Potgieter het nooit gedink sy sou eendag haar eie praktyk hê nie, maar sy het die dringende behoefte op Bethal raakgesien. Sy en me. De Jager en me. Van Rensburg sien nie net pasiënte by die praktyk nie, maar gaan ook uit na skole en die twee ouetehuise om pasiënte te konsulteer.
“Ons reik uit na die bejaardes deur hulle by die ouetehuise te gaan besoek, want ons besef dit is soms moeilik vir hulle om na ons toe te kom,” het dr. Potgieter gesê.
Me. De Jager het gesê dit is uiters belangrik dat ouers so vroeg as moontlik na geboorte ’n gehoortoets laat doen.
“Baie kere as die kind nie praat nie, is daar ’n moontlikheid dat die kind nie kan hoor nie.” Volgens me. Van Rensburg is dit belangrik om probleme onder kinders op ’n jong ouderdom op te tel.
“As die kind al skoolgaan en reeds sukkel, is dit ’n groter uitdaging om die kind te behandel. “Hoe vroeër ’n mens die probleme identifiseer, hoe makliker is dti dan om te help.”
Sy kan ouers help wat bekommerd is oor hul kinders se skoolgereedheid. Dié drie vroue beplan om later vanjaar ’n baba-kliniek te begin waar hulle swanger vroue of selfs vroue wat nie swanger is nie, maar in babas se ouersorg belangstel, touwys gaan maak oor alles wat met baba’s te doen het.
Hulle gaan klasse aanbied en spesifiek op die ontwikkeling van babas, selfs as hulle nog in die ma se maag is, fokus.
Vir dié klasse gaan hulle gassprekers wat ’n spraakterapeut en dieëtkundige insluit, genooi word.