SECUNDA – Lede van die organisasie, AfriForum, Langamed South ambulansdienste, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Secunda 911 Assist het verlede naweek self ingespring en op Vrydag, 14 Februarie en Saterdag, 15 Februarie slaggate op Secunda reggemaak.
Hulle het 100 sakkies teer gebruik om slaggate in die sentrale sakekern van Secunda, Joe Slovostraat, Achmed Katradastraat en Trichardtweg te herstel.
Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum, het die gemeenskap, Sasol Vulstasie in die sentrale sakekern en Oregon Spur wat hulle ondersteun het en eetgoed en koeldrank vir die werkers geneem het, bedank.
Hy het ook vir mnr. Jaco Horn van JTR en Talisman bedank vir die toerusting en vervoer van die toerusting wat hulle geborg het.
AfriForum beplan om die komende naweek weer slaggate op Secunda te herstel.
Ondernemings of individue wat belangstel om AfriForum te borg of te help, kan mnr. Du Plessis skakel by 061 731 3581.
AfriForum gaan plakkate langs die herstelwerk wat ondernemings geborg het, met hul name daarop aanbring.



