Local newsNews

Voorgestelde seksonderrig op skole het ouers warm onder die kraag

Volgens berigte sal 1 500 skole in vyf provinsies, waaronder Mpumalanga val, met die hoogste voorkoms van MIV, aan ’n proeftydperk deelneem.

Ouers van minderjarige kinders wat nuusgebeure rondom die voorgestelde seksonderrig gevolg het, is moontlik in die duister oor wat die Departement van Onderwys se skoolkurrikulum behels.

Me. Angie Motshekga, minister, het volgens berigte in Desember gesê dat ouers wat nie hul kinders aan die voorgestelde sekopvoeding wil laat deelneem nie, self toesig oor hul kinders buite die klaskamer kan hou.

In ‘n onderhoud op ‘n onlangse radioprogram, het ‘n spreker dit as belaglik afgemaak.

Die sillabus genaamd ‘Comprehensive Sexuality Education’ het tot verwarring en vrese aanleiding gegee.

Voorts het me. Nomsa Marchesi van die DA in die nasionale vergadering daarop gewys dat ‘n gepaste balans tussen inligting wat kinders nodig het en dit wat nodig is om die regte keuses te maak, gevind moet word.

Teen einde Januarie is berig dat onderwysers nie gedwing sal word om die departement se nuwe leermateriaal in lewensoriëntering te gebruik nie.

Onduidelikheid bestaan klaarblyklik oor wanneer die materiaal beskikbaar sal wees.

Volgens berigte sal 1 500 skole in vyf provinsies, waaronder Mpumalanga val, met die hoogste voorkoms van MIV, aan ‘n proeftydperk deelneem.

‘n Vergadering tussen die departement en onderwysvakbonde het gevolg waarna die South African Democratic Teachers Union (Sadou) aangedui het dat hul geen probleem daarmee het nie.

Die departement het, volgens berigte, aangevoer dat die leermateriaal op grond van wetenskaplike navorsing saamgestel is, wat leerders sal help om hul eie liggame te respekteer en ingeligte besluite oor seks te neem.

Mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê ouers moet ‘n sê hê oor wat hul kinders geleer word.

Mnr. Colditz het bygevoeg dat dit onwettig sou wees om lesplanne aan onderwysers voor te skryf en dit help ook nie as onderwysers ongemaklik sou voel om dit aan te bied nie.

Die werklikheid van jong kinders in informele nedersettings waar privaatheid nie aldag beskore is nie, kan nie oor die hoof gesien word nie.

Die Standerton Advertiser publiseer nie die name van betrokkenes met wie gepraat is nie, weens die sensitiwiteit van die onderwerp en hul aandrang op anonimiteit.

‘n Ma van ‘n dogtertjie by ‘n laerskool op Standerton is oor haar en haar man se siening gepols en sy het onomwonde op Maandag 3 Februarie gesê dat hul kind sulke klasse nie mag bywoon nie. “Dié plig berus by kinders se ouers,” het sy bygevoeg.

‘n Werkende ma van twee dogters het op Dinsdag 4 Februarie aangevoer dat dit persoonlike inligting is, wat ouers met hul kinders deel.

‘n Ouma wat haar kinders veilig deur die seksuele water gestuur het, het aangevoer dat die koerant ‘n miernes oopkrap.

Nog ‘n werkende ma het gesê dat die gevaar bestaan dat kinders, wat nie opgewasse vir die gevolge is nie, kan begin eksperimenteer.

‘n Skoolhoof het op Woensdag 12 Februarie aangedui dat Fedsas en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) die saak namens hulle hanteer en dat die status quo gehandhaaf word.

Statistieke SA het verlede jaar bekendgemaak dat 3 261 dogters, tussen die ouderdom van 10 en 14 jaar, babageboortes geregistreer het, maar dat meer as 100 000 tieners verlede jaar geboorte geskenk het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button