Local newsNews

Bethal VLU-tak skop jaar af met vergadering en leer van tuinmaak

Dié VLU-tak vier vanjaar hul 92ste bestaansjaar en me. Lynette Posthumus het vroue vanaf 18 tot 108 jaar oud genooi om by die tak aan te sluit en aan die interessante en leersame aktiwiteite by die VLU deel te neem.

BETHAL – Vroue van Bethal VLU het op Dinsdag, 18 Februarie hul tweede vergadering vir die maand gehou en me. Petro Steenkamp het vroue vertel wat hulle alles in Februarie in hul tuine kan doen.

Sy het gesê vroue moet voeding vir al die plante in hul tuine gee en het hulle aangemoedig om erdwurmkompos te gebruik omdat dit ryk is aan voedingstowwe wat die plante nou nodig het.

Me. Steenkamp het vroue gewaarsku om nie nou grassnysels in hul beddings te gooi nie omdat die gras nou saad dra.

Rose moet nou gesnoei en gevoed word en die voeding moet ’n deklaag hê.

Sy het ook wenke gegee oor hoe om van swamme ontslae te raak.

Me. Lynette Posthumus en me. Ysabel Snyman tydens een van die Bethal VLU-tak se onlangse vergaderings toe die vroue van me. Snyman afskeid geneem het.

Tuiniers kan ’n mengsel van ’n teelepel koeksoda en ’n liter water aanmaak en dit twee keer weekliks op besmette plante spuit.

Me. Steenkamp het ook gesê die grasperke benodig nou wortelvoeding en dit kan toegedien word deur kompos of organiese kompos (soos hoendermis of guano) op die grasperk te gooi.

“Lusern- of sojameel is ook goed vir jou beddings en ’n deklaag is belangrik omdat dit die vog in die grond bewaar, vrugbaarheid en gesondheid van die grond verbeter, verhoed dat onkruid groei en dit verbeter ook die visuele aantreklikheid van die tuin,” het me. Steenkamp gesê.

Die taklede van Bethal VLU het tydens dié vergadering afskeid van me. Ysabel Snyman geneem.

Sy was vir langer as 50 jaar by die VLU betrokke.

Sy het haar man vroeg in haar lewe aan die dood afgestaan en moes haar drie dogters alleen grootmaak.

Die kolkuns (dot art) wat VLU-vroue onlangs tydens ’n vergadering gedoen het.

“Alles wat ek moes weet in my lewe, het ek by die VLU geleer,” het me. Snyman vertel.

Die VLU-vroue het me. Snyman as ’n raakvatter beskryf.

By die Bethal VLU-tak se vorige vergadering wat vroeër in Februarie gehou is, het vroue geleer hoe om ’n ou plastiektafel met kolkuns (dot art) op te kikker.

Dié VLU-tak vier vanjaar hul 92ste bestaansjaar en me. Lynette Posthumus het vroue vanaf 18 tot 108 jaar oud genooi om by die tak aan te sluit en aan die interessante en leersame aktiwiteite by die VLU deel te neem.

Sy het gesê van die aktiwiteite wat die tak verlede jaar aangebied het, was om te leer hoe om petit fours te maak, om appliekwerk te doen, hoe om vetplante te rangskik en hulle het ’n kruieplaas besoek.

Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 17 Maart.

Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.

Vir meer inligting, skakel me. Posthumus by 072 203 6230.

Me. Ciska Janse van Rensburg (middel) wys vir lede van die Bethal VLU-tak hoe om appliekwerk te doen. Die lede wat toekyk is me. Sonja Williams, me. Ansie Maritz, me. Lenie Grobler en me. Miemie Roos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button