Local newsNews

Elizabeth Danhauser net te laat om man te groet voor hy sterf

Sekuriteitswag weier om vrou deur hek by hospitaal te laat terwyl haar man sterf

TRICHARDT – Me. Elizabeth Danhauser se vrees is bewaarheid toe haar man, Nick, op Saterdag, 15 Februarie in Evander Hospitaal dood is.

Die Ridge Times het op 7 Februarie oor mnr. Danhauser berig. Sy vrou wou vir hom hulp kry om te verhoed dat hy na Evander Hospitaal geneem word.

Mnr. Danhauser se gesondheid het in 2013 toe hy ‘n aneurisme gehad het, agteruit begin gaan.

Hy het later breinvliesontsteking ook gehad en daarna ‘n beroerte gekry terwyl dokters ‘n operasie op hom uitgevoer het omdat hy nog ‘n aneurisme in sy brein gehad het.

Dit het op ‘n stadium beter met hom gegaan en hy kon nog sy lieflingstokperdjie, hengel, beoefen, maar die laaste paar maande voor sy dood, was hy meestal bedlêend.

Me. Danhauser was egter genoodsaak om hom Evander Hospitaal toe te neem die dag voor hy dood is.

“Ek het hom die Woensdag, 12 Februarie na Evander Hospitaal geneem vir sy afspraak by die fisioterapeut en hy het beter gelyk. Sy longe het egter steeds vir my geklink of daar nog baie slym op is en of dit nog nie skoon is nie.”

Mnr. Danhauser se gesondheid het die Donderdagaand agteruit begin gaan en volgens me. Danhauser het hy begin swak asemhaal en sy oë het snaaks gelyk.

Mnr. Nick Danhauser was op sy gelukkigste langs die viswaters. Sy vrou, me. Elizabeth Danhauser het hom gereeld geneem in sy rolstoel voordat hy heeltemal bedlêend was.

“Ek het hom Vrydagoggend hospitaal toe geneem en hulle het hom op suurstof gesit.

“Ek was die heeldag by hom en sy oë het steeds snaaks gelyk, hy het net heeltyd voor hom uitgestaar. Hulle het naderhand X-strale geneem en bloedtoetse gedoen en gesê hy het infeksie.”

Me. Danhauser het die mediese personeel by Evander Hospitaal gevra om hom na Steve Biko Hospitaal oor te plaas, maar volgens haar was dit nie moontlik nie, want sekere prosedures moes gevolg word en mnr. Danhauser was toe veronderstel om vir ‘n skandering na Ermelo Hospitaal te gaan.

Sy is meegedeel dat mnr. Danhauser ‘n beroerte gehad het. Hulle het hom opgeneem by Evander Hospitaal en sy longe probeer skoonmaak.

Me. Danhauser is huis toe om vir haar man klere te gaan haal. Volgens haar het mnr. Danhauser steeds na asem gesnak by haar terugkeur na die hospitaal.

Sy het later die aand en weer die volgende oggend net voor 8vm die hospitaal geskakel.

Sy is die oggend meegedeel dat dit nie goed met haar man gaan nie.

Sy en haar seun het hulle na die hospitaal gehaas, maar ‘n sekuriteitswag het hulle toegang geweier. Eers na ‘n heen-en-weer geskakel en die uiteindelike nuus dat mnr. Danhauser dood is, is sy ingelaat.

Me. Danhauser het gesê sy sal haar man onthou as iemand wat hardwerkend en eerlik was en wat ‘n hart van goud gehad het.

“Hy was die soort persoon wat sy laaste besittings met ander sou deel, hy was altyd vriendelik en hy was ‘n pa en ‘n man duisend. Hy het altyd sy gesin en kinders eerste geplaas.

Hy was ‘n buitelugmens en was op sy gelukkigste as hy kon visvang.”

Die egpaar was 35 jaar getroud en buiten sy vrou, laat mnr. Danhauser sy twee seuns en ses kleinkinders na.

Sy roudiens is op Donderdag, 20 Februarie vanuit die Corpus Christi Kerk op Middelburg gehou, waar sy een seun woon.

Me. Danhauser het al die organisasies, instansies en die gemeenskap wat hulle gehelp het, bedank.

Een van die laaste foto’s wat van me .Elizabeth Danhauser en haar man, mnr .Nick Danhauser geneem is voordat hy op Saterdag, 15 Februrie dood is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button