Corné Griesel het vele terugslae oorkom, maar bly vreesloos
Haar fisiese gestremdheid is geleë in ’n been wat nie altyd wil saamwerk en een long, wat beskadig is nadat sy tuberkulose in 2018 opgedoen het.
Me. Corné Griesel van Meyerville is deel van ‘n familie wat geborge is in hul geloof.
Van wyle ds. Jan Griesel en sy eggenoot, Babs wat vir sewe jaar die herderspaar by die N.G. Kerk se Suidgemeente was, tot by broer Pienaar en Louisa se seun Willie, wat ‘n predikant op Bray by die Botswana-grens is, en sus Annari en swaer, Tom wat in verre Wisconsin, Amerika leraars is.
Haar ander sibbe is Pienaar se tegnikusseun JG en dogter Marli, broer Johan en sy kinders, Jorina en Janneman.
Corné het vir ‘n tyd by die Elizabeth Conradie Skool, ‘n skool vir die fisiesgestremdes, in Kimberley skoolgegaan en nie vir koue pampoen geskrik as sy met die vliegtuig vir haar ouers kom kuier het nie.
“Ek is bang vir niks, ook nie spoke nie,” het sy gesê.
Sy het op 30 November 2015 afgetree na ‘n dienstydperk van 35 jaar by die Standerton Hospitaal waar sy veral behulpsaam was in die crèche en sale 4 en 5.
“Ek het dit geniet om met kinders te werk,” het Corné bygevoeg.
Haar fisiese gestremdheid is geleë in ‘n been wat nie altyd wil saamwerk nie en een long wat beskadig is nadat sy tuberkulose in 2018 opgedoen het.
“Ek het 22kg verloor en Pienaar-hulle het my in die Kloof Hospitaal in Pretoria laat opneem.
“Toe die dokters die diagnose oor my een long gemaak het, was ek geskok.”
Toe sy klein was, het haar regtervoet opwaarts gedraai en dit moes gebreek word om dit reguit te maak.
In weerwil van liggaamlike uitdagings, was deelnemers aan die parkrun onlangs verras om ‘n nuwe vrywilliger, neffens die een boom, by die Standerton Rivierpark aan te tref.
Sy het dadelik ingeskakel en atlete en stappers word noukeurig dopgehou om toe te sien dat die roete gevolg word.
Corné het op skool in 1975 aan atletiek in die 60m en 80m, asook swem, deelgeneem.
Sy het ook by die Suid-Afrikaanse Paralimpiese Spele in die 70’s in swem meegeding.
Sy het aangepas by veranderde omstandighede hoewel sy deeglik bewus van haar eie beperkings is.
“As die weer verander, veral in die herfs, trek my bors toe. My beskadigde long begin dan vibreer.”
Familiebande is heg met die ouers wat albei oorlede is en daardie video-call en WhatsApp na die VSA, hou susters op hoogte van wat aangaan in hul onderskeie lewens.
Corné het geskater van die lag toe gevra is of sy vroeg in die oggende opstaan.
“Ek lê so bietjie in want ek gaan maar laat in die aande bed toe, as ek eers klaar DVD’s gekyk het.”
Brei, musiek, inkleur, Christelike DVD’s, broodbak en pizzamaak is haar kos.
Haar ondersteuningsnetwerk van familie en vriende is ongelooflik.
“Ek het terugslae in my lewe gehad en moed verloor, maar God het my deurgedra,” het sy mee afgesluit.



