Rhonel gaan storie van hoop vertel by Wêreldbiddag vir vroue
Vrou wil ander inspireer na pad van depressie en tragedie
SECUNDA – Rhonel van Loggerenberg is die spreker by vanjaar se Wêreldbiddag vir Vroue wat op Vrydag, 6 Maart om 10vm by die N.G. Kerk Secunda Oos-gemeente plaasvind.
Rhonel gaan praat oor die tema: Staan op, Neem jou Mat en ….. Markus 2.
Alle vroue is welkom om dié geleentheid by te woon en saam te bid vir kwessies rondom vroue van Secunda en die omgewing.
Rhonel het ‘n graad in bedryfsielkunde en het self vir jare met depressie en angstigheid geworstel.
Haar en haar gesin se lewens het egter in Januarie 2013 vir ewig verander toe haar drie-jarige dogtertjie bykans verdrink het en erge breinskade opgedoen het.
Vroue kan verwag om tydens dié geleentheid geinspireer te word deur Rhonel as sy haar storie vertel van haar pad van vashou aan ‘n Vaderhand- en hart wat haar daagliks vir die afgelope sewe jaar optel, hervorm en bemoedig.
Daar sal koffie of tee en verversings in die kerksaal wees na afloop van die diens.




