Local newsNews

Henry se lewe verander na ongeluk

"Ek het toe vir die Here gesê ek wil nie doodgaan nie. Hy moet my nog 'n kans gee, ek sal my lewe omdraai, want ek wil my seuntjie grootmaak."

SECUNDA – Mnr. Henry Smith (42) se lewe het op 13 Oktober 2013 onherroeplik verander toe hy in ‘n ernstige motorongeluk was en byna sy been verloor het.

Hy het destyds op Vanderbijlpark gewoon. Hy het dié dag saam met ‘n vriend by ‘n kroeg gekuier, maar het toe skielik begin sleg voel.

Hy het later die vriend by sy huis gaan aflaai en was veronderstel om na sy eie huis wat net ‘n blok weg was te gaan, maar hy het in ‘n veld naby Parys in die Vrystaat wakker geword.

Hy het beheer oor sy motor verloor en in die veld beland.

“Ek het afgekyk en gesien albei my bene is gebreek,” het mnr. Smith vertel.

“Ek het myself uit die motor getrek en gesien ek is ‘n hele ent van die pad af en dit was nog donker, want dit het in die vroeë oggend gebeur.”

Mnr. Smith het deur die grond en mieliestronke tot by die pad gesukkel waar veskeie motoriste gestop het om hom te help.

“Ek het toe vir die Here gesê ek wil nie doodgaan nie. Hy moet my nog ‘n kans gee, ek sal my lewe omdraai, want ek wil my seuntjie grootmaak.”

Mnr. Smith het later in die hospitaal wakker geword en hy onthou hoe hy in ‘n vrou met potblou oë vasgekyk het.

Sy het vir hom gesê hy is baie gelukkig om nog te kan leef en dat hy nie sy been verloor het nie.

Hy het 175 steke in sy linkerbeen gekry.

“Die toets wat hulle doen of hulle ‘n been moet amputeer, behels dat die stof wat hulle gebruik vir die toets binne 10 sekondes van kleur moet verander. My been het op die negende sekonde van kleur verander.”

Hy sou later uitvind die vrou met die blou oë was die narkotiseur.

Mnr. Smith moes verskeie operasies aan sy bene ondergaan en die wonde moes gereeld geskraap en skoongemaak word.

Die hospitaalpersoneel het hom naderhand gevra om ‘n man wat ook in dieselfde hospitaal gelê het en baie negatief was, te bemoedig.

“Daai ou het sy nek gebreek, maar hy is ná my in die hospitaal opgeneem en is voor my ontslaan. Hy was baie kwaad en het op almal geskree. Ek het net in sy kamer gaan sit elke dag en ‘n tydskrif gelees tot hy met my begin praat het.”

Mnr. Smith moes ses weke in die hospitaal bly en veloorplantings kry en vir vele sessies by ‘n fisioterapeut gaan voordat hy weer normaal kon loop.

Voor dié ongeluk het hy baie gedrink, maar het besluit om sy lewe te verander en drink vandag steeds nie.

“Ek wou nie hê my seun moes sonder ‘n pa grootword nie.”

Mnr. Smith werk as ‘n SHERQ (Safety Health Environment Risk Quality)-bestuurder op Secunda en sy doelwit is om die maatskappy waar hy werk te laat groei en om mense se lewens te verryk en hulle te bemoedig.

Hy is ‘n mense-mens en geniet dit om in sy vrye tyd gholf saam met sy 12-jarige seun, Christopher, te speel.

“Ek is nie perfek nie en maak steeds foute, maar wil mense laat groei en waar ek kan, hul lewens en omstandighede verander.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button