Local newsNews

AfriForum gryp in en rig watertenk op by Davieshof

Organisasie bedank onderneming wat help

SECUNDA – AfriForum se Teks-tak, wat Trichardt, Evander, Kinross en Secunda insluit, het op Saterdag, 30 Mei, sy eerste noodwaterpunt by die inwoners van Davieshof opgerig.

Lede van AfriForum het die nood in dié opsig raakgesien en besluit om die waterpunt op te rig sodat inwoners in tye van nood toegang tot water sal hê.

Mnr. Bronwen Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum vir die Hoëveld, het gesê AfriForum het besluit om dié projek te loods nadat waterbeperkings gereeld in die gebied voorgekom het en inwoners dan vir lang tye sonder water moes klaarkom.

Die noodwatertenk kan 5kl-water stoor en is met ‘n drukpomp toegerus en kan vir drinkwater en huishoudelike gebruik aangewend word.

“Dié projek se sukses en volhoubaarheid is van die hele gemeenskap se betrokkenheid afhanklik,” het mnr. Pretorius gesê.

“Ons wil vra dat die gemeenskap wat tot die projek kan bydra, veral diegene wie se wonings boorgate het en in tye van nood water kan verskaf, ons sal skakel en ondersteun.”

Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, het gesê hulle wil graag nóg waterpunte op Secunda en die omgewing oprig om meer water tydens onderbrekings beskikbaar te hê.

Hy het Clearwater Plumbing wat die oprig van die waterpunt moontlik gemaak het, bedank. Vir meer inligting, of om by dié projek betrokke te raak, skakel AfriForum se Secunda-nommer by 079 488 7608.

Die drukpomp wat AfriForum by Davieshof opgerig het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button