Local newsNews

Belinda Kriel se simpatie met minderbevoorregtes lei tot deelname aan poltiek

Maak geen fout nie, om die etenstafel aan huis van die Van Rensburgs op Standerton, word dik stukke gepraat.

‘n Oud-Standertonner wat tussen die dorp en Vanderbijlpark pendel, is geen vreemdeling vir die politiek nie.

Me. Belinda Kriel dien op ‘n uitvoerende sonalekomitee van die ANC in die Vaaldriehoek, is streekvoorsitter van Sedibeng se ‘Professional Progressive Forum en ‘n Sanco-organiseerder in Vanderbijlpark.

Maak geen fout nie, om die etenstafel aan huis van die Van Rensburgs op Standerton, word dik stukke gepraat.

Politiek is duidelik in haar bloed waarvan haar teenwoordigheid by die onlangse, kleinere protesaksie by die munisipale kantore getuig.

“Politiek is my hele lewe,” het Belinda gesê.

Om tred te hou met die meer as 200 WhatsApp-groepe se boodskappe wat gelees moet word, word soggens ‘n uur bestee om boodskappe te lees en in die aand, neem dit ‘n goeie twee ure om op hoogte van sake te kom.

Haar belangstelling in die politiek spruit uit frustrasie met bloot by die huis sit en kla, terwyl niemand ag geslaan het nie.

“Ek het diepgaande simpatie met die mense wat nie ‘n ‘stem’ het nie,” het Belinda laat blyk.

Dié ma van twee seuns, onderskeidelik 21 jaar en 15 jaar oud, het ook destyds met die gereg gebots tydens die Overvaal-debakel.

Altesaam 55 leerders is in 2018 toegang by dié oorwegend Afrikaanse skool op Vereeniging geweier en die polisie het by die protesaksie mense in hegtenis geneem.

Volgens Belinda, is die saak uit die hof gegooi.

Sy bestuur ‘n selfsorggastehuis op die dorp wat haar gereelde teenwoordigheid verklaar.

Na skool aan Hoërskool Driehoek het sy ‘n draai by die Anglo-Platinummyn op Rustenburg gemaak en in veiligheidsprosedures en menslike hulpbronne gewerk.

Haar beroepslewe is met verskeie entrepreneursinisiatiewe ingekleur en hou haar voltyds besig.

“Tussen die gastehuis en die politiek het ek nie tyd vir stokperdjies nie,” aldus Belinda.

Wat ontspanning betref, lees sy graag en die Afrikaanse skrywer, Dalene Matthee, beklee die ereplek op haar boekrak.

Op ‘n vraag waar sy haar in die politieke spektrum bevind, het Belinda haar sterk kommunistiese oortuigings erken, met die belangrike verskil dat sy wel aan ‘n Opperwese glo.

“Ek is deel van die kapitalistiese bestel, maar glo daar moet nie so ‘n groot gaping tussen die lewensomstandighede van mense wees nie.”

Ook is sy redelik oortuig dat die munisipale verkiesing wel volgende jaar gaan plaasvind.

Die grendeltydperk het haar nie onverhoeds betrap nie en sy kon tuinmaak en in die kombuis werskaf.

“Ek is bevoorreg en probeer om by verskeie liefdadigheidsaksies my deel te doen,” het sy mee afgesluit.

Me. Belinda Kriel op Woensdag 10 Junie by die ingang van die munisipale kantore waar ’n klein groepie mense die burgemeester wou sien oor dienslewering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button