Bert Bakker onderskei homself in vele aspekte van die gemeenskap
Bert (sr.) se betrokkenheid by bykans alle aspekte van die gemeenskap soos kerk, kultuur, rade, komitees tot burgemeester, laat hom met gemende gevoelens.

Ofskoon mnr. Bert Bakker van Standerton bloot amateurstatus op die planke verkry het, is hy geensins ‘n amateur as dit by die sakewêreld kom nie.
Die ouers van Berend Detmer Bakker het vanaf Gronigen in Holland in 1952 na Suid-Afrika emigreer en die gesin het op Vryburg gevestig.
Die gesinsvergadering voor hul vertrek, het die sibbe genoop om Suid-Afrika op die wêreldkaart op te spoor, maar nietemin, die Bakkers het gekom om te bly.
As negejarige het Bert vroeg reeds onderhandel met die skoolhoof van Laerskool Vryburg, wat aangedring het dat die jongeling van voor af begin.
Bert en sy ooreenkoms was dat as hy sou slaag, ‘n standerd oorgeslaan kon word, wat toe nie die geval was met ‘n nuwe skoolhoof nie.
Sy pa was werksaam by ‘n fabriek op die dorp waar die kinders vroeg reeds in aanraking was met ‘n ouer wat entrepreneurskap in sy bloed gehad het.
Nadat Bert AD Keet se Muskietejag eendag in die klaskamer voorgedra het, sou hy dit later, voor ‘n gehoor, in die stadsaal ook voordra.
“Die dinge van belang op Vryburg was boks, stoei en rugby, maar ek was ‘n kultuurmens,” het hy verklap.
Die regie van ‘n operette was ook nie bo sy vuurmaakplek nie.
Dié onderhoofseun van Hoërskool Vryburg se kop het aanvanklik aptekerswese toe gestaan, maar na twee jaar se studie, het die sakewêreld die oorhand gekry.
Sy eggenoot Norma-Anne, het hy reeds op skool ontmoet en die geykte uitdrukking van teenoorgesteldes wat aangetrokke tot mekaar voel, is later met ‘n huweliksbevestiging op Standerton korrek bewys.
“Ek was kultuur- en kerkgebonde, terwyl sy haar terdeë met ‘bob’ en ‘jive’ geniet het.”
Skoonpa Norman Calitz het die aanvoorwerk begin dat Bert na Standerton moes verhuis en 48 jaar later, is die Bakkers steeds hier.
Bert se kundigheid in onder meer saadverkope sou ‘n deurslaggewende rol speel in sy latere eienaarskap van die voormalige Voermeester op die dorp.
Op die tuisfront is Anthon, Robert en pa se naamgenoot Bert, gebore en na hul onderskeie huwelike, spog die grootouers met ses kleinkinders.
Bert (jr.) en Yolandé bly in Australië, terwyl Anthon en Helen in Johannesburg woon en Robert en Suanita in Pretoria.
Bert (sr.) se betrokkenheid by bykans alle aspekte van die gemeenskap soos kerk, kultuur, rade, komitees tot burgemeester, laat hom met gemengde gevoelens.
Hy moes soos menige sakeman baie verpligtinge nakom en het die harmonieuse en ordelike bestuur van die huishouding aan Norma-Anne oorgelaat.
“Ek kon my uitleef op verskillende vlakke, ten koste van my gesin,” het hy nadenkend opgemerk.
Voermeester het destyds van sy grondstowwe van niemand anders as die Suid-Afrikaanse Brouery aangekoop en uiteindelik is ‘n fabriek en drooginstallasie in Alberton, genaamd Alvoer, van die grond af opgerig.
Die kontrak met SAB is egter verlede jaar nie hernu nie.
Op die vraag watter hoogtepunt is sy lewe hy sal uitsonder, bly Bert se voorsitterskap vir Streek F, wat later as Mpumalanga sou bekendstaan, van die Streeknywerheidontwikkelingsraad hom by.
Dié man wat vir soveel portefeuljes in sy lewe kans gesien het, het tong-in-die- kies voorgestel dat die artikel eindig met die befaamde woorde van prins Hamlet, uit een van Shakespeare se dramas.
“To be, or not to be: that is the question..” (aanhaling uit Hamlet)
“The answer to the question is to Be: Soli Deo gloria,” aldus Bert.



