Riana Barnard berei voor om nog verder te skryf
Moontlik sal Riana se begeerte om iewers nes te skop in ’n houthuisie, met genoeg blomme en plante omring, dan verwesenklik word.
Me. Riana Barnard van Standerton wat sedert sy kan onthou, met die swart hond sukkel, het dié gemoedsteurnis oorkom.
“Ek het mysef uit ‘n diep depressie, sonder enige medikasie, uitgeskryf,” het Riana gesê.
‘n Digbundel, Drome in Woorde, het in 2018 die lig gesien en dié publikasie is self behartig, maar van ophou was daar geen sprake nie.
Daarna het Riana in sewe gesamentlike digbundels van haar werk laat publiseer en ook ‘n ander genre, kortverhale, aangepak.
Op dieselfde beginsel het 16 kortverhale gevolg wat daarna in ses gesamentlike bundels opgeneem is.
Sy maak notas op haar selfoon as iets in haar daaglikse wandel haar opval en daardie notas vind dan later gestalte in ‘n pennevrug.
Riana het vir eers tot stilstand gekom wat betref haar kreatiewe sy.
“Ek besef veral nou dat ek moet verder lees,” het sy bygevoeg.
Dalene Matthee tel onder haar gunstelingskrywers en die Afrikaanse digter, Totius, het ook ‘n plek op haar boekrak.
Die Barnards sal na Bloemfonetin vertrek wanneer haar man, Pierre se werkskontrak hier verstryk het.
Die hoe en waar is nog nie in plek is nie, maar dit sal nou saamhang met Pierre se werk by ‘n sub-kontrakteur van Eskom.
Moontlik sal Riana se begeerte om iewers nes te skop in ‘n houthuisie, met genoeg blomme en plante omring, dan verwesenklik word.
Sy sal dan groente plant en wil vrugtebome hê om ook aan haar omgewingsbewussyn gestalte te gee.
Hulle het 13 jaar op die dorp gebly en die grootouers sal dan naby hulle drie kleinkinders wees.
Hulle seun Theunis, en sy eggenoot, Madelyn woon al geruime tyd in die Vrystaat.
“Ek het gewoonlik elke skoolvakansie na die kinders gaan kyk, maar die grendeltydperk het ‘n stokkie daarvoor gesteek.
“Dit is verskriklik, nou kan ons nie daarheen ry nie.”
‘n Vegter is sy nietemin, het die frustrasies eie aan ‘n perfeksionis en met haar sterk geloofsoortuigings, is dit nie vreemd dat haar eerlikheid haar mense soms dwars in die krop steek nie.
“Ek bly maar ‘n dromer en is ‘n gelukkige mens,” het sy mee afgesluit.



