Helpende Hand se ‘Ons Winkel’ maak deure oop
Behoeftige mense wat kwalifiseer, word met dié skenkings gehelp en die res van die voorraad word verkoop.
Solidariteit Helpende Hand het op Woensdag 22 Julie ‘Ons Winkel’ in die Fazy-sentrum op Standerton geopen.
Dit was heel bedrywig in die tweedehandese winkel met hoofkantoor-personeel wat ook teenwoordig was.
Die Roux-egpaar van Standerton het dié onderneming op die been gebring en Janelize bestuur die winkel.
Me. Alet Robbeson het kortliks almal welkom geheet voordat Casper en Janelize die lint geknip het.

“Ons is trots om kontrakteurs van AfriForum te wees,” het me. Roux gesê.
“Behoeftige mense wat kwalifiseer, word met dié skenkings gehelp en die res van die voorraad word verkoop.
“Die geld wat met die verkope van die tweedehandse ware ontvang word, word vir gemeenskapsprojekte gebruik en ook vir studiegeld vir behoeftige studente.”
Solidariteit Helpende Hand het op Donderdag 23 Julie ‘n persvrystelling gestuur waarin die publiek aangemoedig is om in hul kaste in te vaar as die ‘regpakgogga’ hul beetkry.
“Die publiek kan nou die ledige ure tydens die inperking gebruik om van alle ou klere en oortollige huis- en motorhuisware ontslae te raak deur dit vir liefdadigheid te skenk,” het me. René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie, gesê.

“Hierdeur kan jy in ‘n moeilike tyd ‘n goeie taak verrig waarby nie net jou huishouding sal baat nie, maar wat ook ‘n verskil in ‘n behoeftige mense se lewe kan maak.”
Helpende Hand het tans meer as 65 soortgelyke winkels landwyd en klere, kombuisware, speelgoed, elektriese toerusting, meubels en linne kan na die Ons Winkels geneem word.
Ten slotte is die publiek aangemoedig om al hul ou klere, meubels, linne of enigiets wat in die pad staan, of nie meer gebruik word nie, aan die welsynswinkel te skenk.




