Peet Human sterf na lang siekbed
"Peet was 'n groot man van postuur, onwrikbaar, met 'n mooi sagte hart. Ek gaan sy teenwoordigheid geweldig mis," het me. Human gesê.
BETHAL – Een van die bekendste boere in die Bethaldistrik, mnr. Peet Human (79), is verlede Woensdagoggend in sy huis op die plaas Klipfontein aan ‘n hartaanval dood.
Mnr. Human het die laaste paar jaar onder andere ‘n aortaklepvervanging ondergaan en prostaatkanker gehad. Hy was ook ‘n diabeet, maar die laaste ses maande het die hartversaking hom baie agteruit laat gaan.
Hy is op Bethal gebore en het hier grootgeword.
Hy was slegs twee jaar oud toe sy pa oorlede is.
Mnr. Human het op Laerskool H.M. Swart skoolgegaan en toe aan die Hoërskool Amsterdam Landbouskool gematrikuleer.
Ná sy twee jaar diensplig, het hy vir mnr. Peet en me. Babs Petzer geboer.
Mnr. Human het nie op sy louere gerus nie en deur die jare vele plase gekoop.
Hy het ook ‘n groot liefde vir die Bosveld gehad.
Mnr. Human is beskou as ‘n introvert, maar ‘n eerlike en opregte mens wat ‘n wonderlike pa vir sy kinders was.
Vir sy vrou Maud, met wie hy 54 jaar getroud was, was hy ‘n ondersteunende en liefdevolle man. Sy vriende het hom as ‘n yster beskryf en dat hy ‘n goeie, sagte, vrygewende mens was.
“Peet was ‘n groot man van postuur, onwrikbaar, met ‘n mooi sagte hart. Ek gaan sy teenwoordigheid geweldig mis,” het me. Human gesê.
Mnr. Human het vir Bethal rugby gespeel en was in 1965 vir die Oos-Transvaal Platteland teen Argentinië in aksie gewees.
Hy was ook ‘n gholfspeler waar hy lid van Bethal Gholfklub was.
Sy oudste dogter, me. Griet Bodenstein, het gesê dat haar pa nie geskroom het om ‘n ding op sy naam te noem nie.
Buiten sy vrou, laat mnr. Human vyf kinders, Hannes, Griet, Frik, Mari en Maudie na, asook skoonkinders, Brenda, Jacques, Mel, Oloff en Pierre, en 14 kleinkinders.
Sy roudiens vind op Donderdag 6 Augustus vanuit die N.G. Kerk se Oosgemeente op Bethal plaas.
Mense wat deel van die diens wil wees, kan Hannes of Frik WhatsApp by 082 550 3670 of 082 474 2799 om die internetskakel te kry om die diens te volg.



