Local newsNews

Dokter Mario Karl groet Secunda

Pediater sien uit daarna om te rus

TRICHARDT – Dr. Mario Karl, pediater by Mediclinic Highveld, tree na 31 jaar in privaat praktyk op Trichardt, af.

Hy het sedert 1988 op Trichardt gewoon en al sy kinders het op Trihardt grootgeword.

Hy en sy vrou, me. Maxie Karl, het reeds agt jaar gelede hul aftreehuis in Pretoria gekoop en dr. Karl het die laaste paar jaar tussen Trichardt en Pretoria gependel.

Dié kinderarts is in Duitsland gebore en sy gesin het na Suid-Afrika geimmigreer toe hy 16 jaar oud was.

Hy het sy matriekjaar op Mookgophong (Naboomspruit) voltooi en ná skool, in 1975,aan die Universiteit van Pretoria studeer om ‘n dokter te word.

Dr. Karl het sy huisdoktersjaar by die Thembisa Hospitaal gedoen en was vir twee jaar in die weermag deel van die mediese korps voordat hy gespesialiseer het in pediatrie aan die Universtiteit van Pretoria.

Hy het in 1989 na Trichardt verhuis en sy privaat praktyk op Trichardt by Mediclinic Highveld oopgemaak.

Dr. Karl beplan om nog uit te help op Trichardt en in Pretoria wanneer hulle hom nodig het.

“Vir nou gaan ek net ‘n bietjie rus, maar ek sal nie heeltemal ophou werk nie,” het hy gesê.

Hy sien egter uit daarna om meer tyd met sy vrou en hul drie kleinkinders te bestee.

Sy kinders is verspreid oor die wêreld met een wat in Pretoria woon, een in Hong Kong en een in Duitsland.

Dr. Karl se oudste dogter is terug na haar herkoms en woon al jare in Duitsland.

“Ek het haar gestuur om daar te gaan werk as au-pair na skool en sy het daar verlief en verloof geraak en nie weer teruggekom nie,” het dr. Karl laggend vertel.

Hy hou daarvan om aktief te wees en het al 12 Comrades-wedlope asook ander wedlope agter die blad.

Hy draf steeds gereeld as hy die kans kry en het in 2018 die Athene marathon van 42.2km in Griekeland voltooi.

Verder geniet hy dit om na klassieke musiek te luister, te stap en tyd in die Bosveld deur te bring.

Hy het al veskeie groot staproetes, onder andere die Fanie Botha-voetslaanpad, voltooi.

Die Karl-egpaar besoek Duitsland so elke twee jaar om vir sy dogter en ander familie wat nog daar woon, te gaan kuier.

Hulle het ook al ‘n paar keer Hong Kong besoek om vir sy seun te gaan kuier.

Dr. Karl het die staproetes buite Hong Kong baie geniet en gesê Hong Kong was vir hom ‘n mooi en interessante stad met die pragtigste en moeilikste staproetes.

Hy wil, noudat hy afgree, graag nog verskeie ander lande wat Rusland, Letland en Latvia insluit, besoek.

Sy ma is in Letland gebore en dr. Karl wil graag gaan kyk hoe haar geboorteland lyk.

“Ek het hard gewerk en dit is soms moeilik vir ‘n dokter om langer as ‘n week verlof te neem,” het hy gesê.

Hy het die gemeenskap van Trichardt en Secunda bedank vir hul ondersteuning deur die jare.

Trichardt sal altyd diep in sy hart behoue bly en hy is dankbaar vir al die vriendskappe wat hy hier opgebou het.

“Baie dankie ook aan die hospitaalpersoneel vir al die jare se saamwerk,” het dr. Karl afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button