Barbara Sheppard gebruik haar mensekennis om te help
“Ek wou verskriklik graag ’n psigiater word en om die waarheid te sê, nog steeds.”
Me. Barbara Sheppard, sakevrou van Standerton wat ‘n leiersrol by die afgelope protesaksie van die gemeenskap gespeel het, het by nadere kennismaking beredeneerd en oopkop oor haar lewe gesels.
Sy en haar man Wayne, het 10 jaar gelede terug na Standerton verhuis en die restaurant op Knysna se kelners en kelnerinne na nege jaar vaarwel toegeroep.
Geen slapelose nagte daaroor nie.
“Ek sal nooit weer met kos werk nie,” het Barbara onomwonde verklaar.
Na ‘n vlugtige denkproses, het sy bygevoeg dat dit die laaste paadjie sal wees om te loop sou daar geen ander uitweg wees nie. Die Sheppard-dogters, Lidmari en Kenzy, is albei in Laerskool Standerton.
Barbara het op Standerton grootgeword en hier skoolgegaan voordat agt verskillende skole elders gevolg het.
Na skool, het die mediese professie, veral die sielkunde, aanloklik gelyk, maar weens finansiële oorwegings is dit nie aangepak nie.
“Ek wou verskriklik graag ‘n psigiater word en om die waarheid te sê, nog steeds.”
Wayne en haar huwelikbevestiging het op Oudsthoorn plaasgevind toe die kantoor van binnelandse sake op Knysna nie beskikbaar was vir die amptelike seremonie nie.
“Ses bruinmense wat vir identiteitsdokumente gewag het, was die getuies.” Dus geen fieterjasies nie en ook ‘n ander blik op romanse.
“Romanse gaan nie soseer oor sjokolade en blomme nie,” aldus Barbara.
In haar onderneming is die klassieke musiek hoorbaar in die agtergrond, hoewel sy nie altyd dadelik die komponiste kan identifiseer nie.
“Ek is maar verstrooid as dit by die name van liedjies en kunstenaars kom,” is ruiterlik erken.
“Ek luister alles behalwe ‘heavy metal’ en sekere Afrikaanse musiek.”
Uit die aard van haar bedryf, kom sy daagliks met mense te doen waar simpatie en hulp broodnodig is, maar Barbara het die situasie deeglik onder die knie.
“Ek kan simpatiseer en help sonder om iemand anders se bagasie te dra.”
Met die aanbreek van Covid-19, het sy saam met ‘n span vroue, mee. Elsabé Jordaan, Wilma Venter en Arista van der Merwe, kospakkies op Standerton uitgedeel.
Dié vrou se soeke na die rede vir menslike gedrag, het haar lankal al laat besluit dat die lewe nie net swart en wit is nie.




