Bethal prokureur, Johan Fourie, sterf
Dokters het sowat 20 minute lank tevergeefs gepoog om sy hart weer aan die klop te kry.
BETHAL – Huldeblyke het die naweek ingestroom nadat die nuus bekend geword het dat mnr. Johan Fourie (85) Saterdagoggend dood is.
Mnr. Fourie was ‘n bekende inwoner van Bethal waar hy 60 jaar lank as prokureur praktiseer het.
Hy was ook ‘n oudburgemeester van die dorp.
Mnr. Fourie is twee weke voor sy dood in die hospitaal opgeneem. Hy het positief vir Covid-19 getoets. Hy was eers in die hoësorgeenheid voordat hy na die intensiewe eenheid oorgeplaas is.
By tye het dit met hom beter gegaan, maar sy vrou, Annatjie, is Saterdagoggend vroeg na hom ontbied omdat sy toestand verswak het. Met haar aankoms was hy egter reeds dood.
Dokters het sowat 20 minute lank tevergeefs gepoog om sy hart weer aan die klop te kry.
Me. Fourie het Sondag gesê dat hy haar anker was en haar baie bederf het.
“Hy het my met soveel respek en liefde behandel. Hy was ‘n besondere mens en ek het net die mooiste herinneringe van hom.”
Sy het bygevoeg dat haar man die gawe gehad het om die regte besluite te neem in alles wat hy gedoen het.
“Hy het ‘n ongelooflike goeie hart gehad.”
Die egpaar was op 5 Augustus 59 jaar getroud. Sy kon dié dag nie saam met hom herdenk nie omdat hy in die hospitaal was.
Drie kinders is uit hul huwelik gebore, Nico, Jaco en Aletta.
Nico is in 2009 in ‘n motorongeluk dood en Jaco is in 2012 in ‘n ongeluk dood.
Die Fourie-egpaar het sewe kleinkinders.
Mnr. Fourie was geliefd onder sy kollegas op die prokureursorde.
Sy vennoot van 46 jaar, mnr. Hannes Human, het gesê dat mnr. Fourie vir hom soos ‘n ouer broer was.
“Ons het in beginsel nooit verskil nie en het ‘n gemaklike verhouding gehad. Ek het baie by hom geleer. Hy was ‘n ongelooflike bekwame man. Ek gaan hom mis, hy was my lewenslange vriend.”
Een van mnr. Fourie se kollegas by die prokureursorde het in ‘n boodskap gesê dat daar prokureurs is wat gerespekteer word, maar min wat ook geliefd was.
“Johan was so een. In ons geledere was sy bydrae groot en sal hy lank onthou word.”
Een van die N.G. Kerk Bethal-Oos se voormalige leraars, het op sy beurt gesê mnr. Fourie het ‘n onkreukbare integriteit gehad met ‘n heerlike humorsin.
“Hy was ‘n lojale vriend, waardig in elke situasie en onstuitbaar vir wat reg is.”
Mnr. Fourie is op Lydenburg gebore waar hy op laerskool in ‘n plaasskool was. Hy het aan die Hoërskool Lydenburg gematrikuleer en na sy skoolloopbaan regte aan die Universiteit van Pretoria studeer.
Hy was die oudste van drie kinders.
Geen reëlings ten opsigte van die roudiens was teen druktyd bekend nie.
Lees ook: Johan Fourie vier 60 jaar as prokureur



