Local newsNews

Secunda-bejaarde druk laaste stompie na 68 jaar dood

“Wanneer die lus vir ’n sigaret te veel geraak het, het my ma maar ’n soute dropje gesuig,” het me. De Koning vertel.

SECUNDA – Die staat van inperking met sy verbod op sigaretverkope wat terselfde tyd pryse vir onwettige sigarette die hoogte in laat skiet het, het me. Jopie Schuurman (88) oor haar rookgewoontes laat besin.

Dié bejaarde van Secunda het bykans twee maande gelede haar laaste dampie getrek – 68 jaar ná sy begin rook het.

“Ek voel goed hieroor. Ek dink my kinders is baie dankbaar,” het me. Schuurman in haar swaar Nederlandse aksent vertel.

Sy is in die suide van Amsterdam, ‘n paar jaar voor die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, gebore.

Sy het in ‘n kinderhuis grootgeword en het nooit haar eie ma geken nie.

Me. Schuurman is later met mnr. Piet Schuurman getroud.

“Ek het op 20-jarige ouderdom saam met my vriendinne begin rook,” het sy vertel.

Die Schuurman-egpaar het dekades gelede met hul vier kinders na Suid-Afrika gekom omdat mnr. Schuurman ‘n werkskontrak in hierdie land gekry het.

“My ma het geweier dat my pa alleen hierheen kom. Dit was ook maar goed so, want die kontrak was telkens verleng en ons het gekom om te bly,” het die egpaar se oudste, me. Joke de Koning, vertel.

Volgens haar was me. Schuurman al die jare maar ‘n strawwe roker en, nadat haar pa oorlede is, was die sigarette dalk ‘n vorm van ontvlugting.

“Ek dink nie my ma het werklik al die motivering gehad om op te hou rook nie.”

Nadat me. Schuurman by me. De Koning op Secunda kom woon het, het haar dogter toe reeds begin om die sigarette per dag te verminder tot ‘n ransoen van net ‘n paar rookgoedjies.

“Toe die inperking kom, het sigarette net soveel duurder geword en eendag, so na ‘n woordewisseling oor Ma se rookgewoontes, het sy uit die bloute laat weet dat sy kan ophou as sy sou wou. En sy het dit bewys,” het me. De Koning geskerts.

“Wanneer die lus vir ‘n sigaret te veel geraak het, het my ma maar ‘n soute dropje gesuig,” het me. De Koning vertel.

“Ek is baie trots op my ma.”

Me. Jopie Schuurman (88) is in ‘n prettige luim. Sy het na 68 jaar ophou rook. (Foto verskaf)

Volgens me. De Koning het sy, haar suster me. Ansje Landsberg, en twee broers, mnre. Adrie en Peter Schuurman, ‘n gelukkige kinderlewe gehad en was hul ma altyd goed vir hulle.

Me. Schuurman was ‘n tuisteskepper wat ook graag in die tuin gewerk het.

Deesdae geniet sy rekenaarspeletjies en kan haarself vir ure daarmee vermaak.

Me. Schuurman spog ook met 14 kleinkinders en nege agterkleinkinders waarvan sy die jongste enetjie nog moet ontmoet.

Me. Schuurman mik om 100 jaar oud te word.

Sy loop moeilik weens ‘n heupvervanging, maar haar oë en ore werk nog heel goed. Sy glo die ophou rook sal haar nog ‘n verdere hupstoot kan gee om dié hoë mylpaal te bereik.

“Ek het nooit besef hoe erg die rook die mense om my gepla het nie, totdat ek opgehou rook het nie,” het me. Schuurman gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button