Tannie Susan Brits (88) van Standerton sterf
Haar mense het haar as ’n liefdevolle en toegewyde moeder beskryf wat ander se behoeftes vooropgestel het.
‘n Jarelange inwoner van Standerton en die omgewing, tannie Susan Brits, is op 9 Augustus in die ouderdom van 88 oorlede. Sy het na die afsterwe van oom Rudolph Fritz na die Kosmos Aftree-oord verhuis en die meenthuis, waar besoekers altyd gul ontvang is, se deure toegetrek. Haar kinders het in ‘n kort huldeblyk gesê dat almal wat haar geken het, met ‘n leemte agtergelaat is wat nooit weer gevul sal kan word nie. Tannie Susan was ‘n bakster van formaat wat met keurige happies gereed gestaan het by enige verjaarsdagviering. Ook kon ‘n mens dié voormalige boervrou altyd deur ‘n ring trek. Haar mense het haar as ‘n liefdevolle en toegewyde moeder beskryf wat ander se behoeftes vooropgestel het. “Ons groet haar met die dieselfde woorde waarmee sy ons gereeld gegroet het: ‘Ek is baie lief vir jou’,” het die huldeblyk gelees. Sy laat haar kinders Jurgens, Trudie en Hannelie met hul gades Sarie, Nicolaas van der Merwe en Johan Gerber agter, asook kleinkinders en agterkleinkinders. Die roudiens het op Dinsdag 18 Augustus om 11vm in die APK Kerk plaasgevind.



