Buurtwaglede help om brande te blus in die Standerton-omgewing
“Te danke aan die buurtwag en boere in die omgewing se hulp, kon ons die brande baie vinnig onder beheer kry en sodoende groot skade voorkom,” het mnr. Moll gesê.
Die AfriForum-buurtwag op Standerton het van 7 tot 10 Augustus gehelp om veldbrande in die gebied te bestry en te blus. Volgens hul persverklaring, is daar tydens die afgelope langnaweek twee keer om hulp gevra op noodgroepe van boere in die Standerton-omgewing. Mnr. Gerhard Moll, buurtwagvoorsitter, het buurtwaglede in kennis gestel. Sterk winde het die bestryding van die veldbrande bemoeilik. “Te danke aan die buurtwag en boere in die omgewing se hulp, kon ons die brande baie vinnig onder beheer kry en sodoende groot skade voorkom,” het mnr. Moll gesê. “Ons is bly om te sien hoe die gemeenskap, boere en buurtwag saamspan om brande soos hierdie te bestry.” Mnr. Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het gesê dit is vir hulle belangrik om gemeenskappe te ondersteun.



