Local newsNews

Trudie bak graag koeke en kyk vir verkleurmannetjies in tuin

Verkleurmannetjie kry vier kleintjies

SECUNDA – Me. Trudie Whittaker het verlede somer ‘n interessante besoeker in haar tuin opgemerk, ‘n verkleurmannetjie. Verkleurmannetjies kom deesdae nie meer so algemeen in tuine op die dorp voor nie en me. Whittaker en haar man, mnr. Eric Whittaker, was opgewonde toe hulle die bruin verkleurmannetjie in hul tuin gewaar. Hulle het gedurende die winter weer dié verkleurmannetjie opgemerk dat daar ook vier kleintjies was. “Maar deesdae sien ons net twee kleintjies,” het me. Whittaker gesê. “Die verkleurmannetjies is bruin, maar word ligter en donkerder. “Ons vermoed dit is die Karoo-dwergverkleurmannetjie.” Me. Whittaker is in Zimbabwe gebore, maar woon al 41 jaar in Suid-Afrika.

Een van die koeke wat me. Trudie Whittaker gebak het.

Sy is in Zimbabwe getroud met mnr. Eric Whittaker en die egpaar het vir ‘n jaar en ‘n half daar gewoon voordat hulle eers na Springs en later na Secunda verhuis het. Me. Whittaker het in die finansiële afdeling by een van die myne in die omgewing gewerk, maar toe haar eerste kind gebore is, het sy besluit om te bedank sodat sy tyd by haar kinders kan deurbring. Sy het, toe haar kinders begin skoolgaan het, begin om koeke te versier. Sy het vir klasse by me. Griet Hodgson gegaan destyds op Secunda, maar dit was egter haar pa, mnr. Jan Schmidt wat haar leer koek bak het. “My pa was baie lief om te bak,” het me. Whittaker gesê. Sy het ook baie geleer by haar ouma, me. Lefina van der Merwe, as sy vir skoolvakansies by haar gaan kuier het as kind. Me. Whittaker was vir jare by die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde betrokke en het ook vir lank in die voorsitterstoel gesit. Sy is nou vir die afgelope twee jaar deel van die Suikerbekkkies-klub wat ook koeke versier en van mekaar leer en gereeld op uitstappies gaan.

Me. Trudie Whittaker met een van die skilderye wat sy geskilder het.

Sedert haar man afgetree het, reis die egpaar graag rond in Suid-Afrika en gaan graag vir ‘n maand Knysna toe. Me. Whittaker bak koeke vir enige geleentheid, van troukoeke tot verjaarsdagkoeke. Sy het gesê sy geniet dit as mense ‘n soort koek kies wat anders is en wat sy nog nie gemaak het nie, want sy hou van ‘n nuwe uitdaging. Haar grootste uitdaging is as mense troukoeke van sewe lae wil hê met rose van bo tot onder. Dan moet sy sowat 200 rose met die hand maak vanuit versiersuiker. Dit kan ook sowat twee weke neem om ‘n bruid en bruidegom vanuit versiersuiker te bou.

Die verkleurmannetjie wat in me. Trudie Whittaker se tuin bly.

Me. Whittaker het ook al vreemde versoeke vir koeke gekry en het al nee gesê. “Ek sal nie koeke maak met bloed of sulke vreemde goed op nie,” het sy gesê. As sy nie koeke bak of deur Suid-Afrika reis nie, geniet sy dit om te skilder en is deel van die Palette Kunsgroep. Sy het op skool geleer hoe om te skilder en in haar jong volwasse lewe klasse geloop in skilderkuns. Olieverf is haar gunsteling medium en sy skilder graag landskappe en bietjie portrette. “As ek ‘n prentjie sien wat met my praat en ‘n impak maak, probeer ek dit skilder, soms is dit suksesvol en soms nie.” Sy het onlangs begin om ook met waterverf te skilder. Sy geniet dit ook om naaldwerk te doen en te hekel of brei in haar vrye tyd.

Me. Trudie Whittaker versier ‘n verjaardagkoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button