Christo Dippenaar van Standerton draai nie doekies om as dit by maatstawwe vir sukses kom nie
Hy lees wyd en het Anton Rupert aangehaal wat op ’n keer gesê het dat om te vertrou ’n risiko is, om nie te vertrou ’n risiko is wat kan lei tot ’n ramp.
Die oud-onderwyser, mnr. Christo Dippenaar, het tydens ‘n onderhoud die gewaarwordinge van meer as een persoon op Standerton, beredeneerd verwoord.
Diensleweringversuim veral, steek hom dwars in die krop.
“Ek het op die dorp grootgeword en om dit só te sien, is hartverskeurend,” het Christo gesê. “Dit is ‘n swaar pil om te sluk.” Hy het aan die Universiteit van Pretoria sy B.Com-graad verwerf en by die voormalige Normaalkollege ‘n onderwysdiploma.
Dié Standertonner was net tussen 1970 tot 1975 weg van die dorp en het teen 1976 by Hoërskool Standerton aangemeld en leerders in sy vakgebied,
Bedryfsekonomie onderrig. Na 18 jaar se skoolhou, het hy studente by die voormalige Tegniese Kollege touwys gemaak en ‘n loopbaanverandering in 1993, as sakeman, het gevolg.
“Dit was vir seker ‘n moeilike sprong,” het hy terugskouend erken. Christo het ‘n skool, kerk en onderneming oor dieselfde kam geskeer wat suksesvolle bestuur aanbetref en glo integriteit, leierskap en dissipline is die maatstawwe waarvolgens ‘n geoliede masjien loop. “Die munisipaliteit moet soos ‘n onderneming bestuur word,” het hy ook gesê.
Christo omarm beginsels soos eerlikheid en harde werk ten volle en het sy lewensfilosofie met die koerant gedeel.
“Die lewe skuld jou niks en jy moet bereid wees om te leer.
“Jy kan soms inligting insamel deur met jou oë te steel.”
Christo is ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging en spog met 30 soorte duiwe wat brunnerkropper en skildkropper insluit en die hokke in die jaart huisves ook hoenders.
Die groentetuin lewer onder meer spinasie, boontjies en tamaties vir eie gebruik op en mense wat oor sy pad kom en as dit nie vir die muisvoëls was nie, sou die perskes beter daaraan uitgesien het. Hy lees wyd en het Anton Rupert aangehaal wat op ‘n keer gesê het dat om te vertrou ‘n risiko is, om nie te vertrou ‘n risiko is wat kan lei tot ‘n ramp.
Sy patriotisme was duidelik. “Ons het ‘n wonderlike land met berge, woude, woestyne en die see.”
Christo en Charlotte het vier kinders en nege kleinkinders en sy seun, Hendrik het die brandstofonderneming oorgeneem.
“Ek kan nou die vrugte pluk van kinders wat eienaarskap van hulle lewens geneem het.”
Met die BMW 1200 GS sal dié lid van die motorfietsklub, Light Riders, maklik die pad Kemptonpark toe aandurf om ‘n geleentheid van die Bybelgenootskap by te woon.
Menswaardigheid het vir hom belangriker geword soos die jare aangestap het en wat oorbly, is een versugting. “Ek sal graag my kleinkinders wil sien trou.”



