Standerton se Madri van Niekerk teken ’n pad oop na internaionaal-bekende skrywer se boek
Ma Tinkie het dié kompetisie op die uitgewer se Facebook-bladsy gesien en siende ’n kunsklasstudent by Celestie Bailey, is die liefde vir teken aan haar dogter oorgedra.
‘n Veelsydige gr. 6-leerder van Laerskool Kalie de Haas het in ‘n illustrasiekompetisie wat deur die befaamde skrywer JK Rowling en Lapa Uitgewers aangebied is, groot welslae behaal.
Twee van Madri van Niekerk se illustrasies, uit byna 300 inskrywings, is vir die Afrikaans-vertaalde boek ‘Ickabog’ gekies.
Ma Tinkie het dié kompetisie op die uitgewer se Facebook-bladsy gesien en siende ‘n kunsklasstudent by Celestie Bailey, is die liefde vir teken aan haar dogter oorgedra.
“Madri het van jongsaf geteken en nooit ‘n inkleurboek gesoek nie,” het Tinkie verklap.
Die illustrasies beeld ‘n perd en ‘n stillewe met wynglas en kaas uit vir die boek wat vanjaar verskyn het.
Die storie is gratis aanlyn geplaas en kinders in die ouderdomsgroep 7 tot 12 jaar kon deelneem.
“Ek het seker so drie dae aan elke illustrasie gewerk,” het Madri gesê.
Madri is ‘n Harry Potter-bewonderaar en het drie van Rowling se boeke gelees en die hele reeks op televisie gevolg.
Tinkie beproef gewoonlik ‘n medium, hetsy pastelle, olieverf of potlode en stel Madri dan bekend daaraan.
Haar dogter wil egter eendag ‘n veearts word.
Maak geen fout nie, die honde in die Van Niekerk-huis word tot in die afgrond in bederf. “Madri kry meer raas as die honde,” het Tinkie geskerts.
Met ouers wat in Tinkie se woorde meer wiskudig aangelê is, het hul probeer om Madri se taalvaardighede te slyp deur haar aan redenaarskompetisies bloot te stel.
“Ons is streng daarop dat tale nie in ons huis gemeng word nie,” het sy gesê.
Tussen Madri se ATKV-digipraat, Radikale Redenaars en podiumpret, het die akademie nie agterweë gebly nie.
Sy is eerste onder die top 10 by Kalies en op die leerlingraad.
Sportgewys spog die jong dogter met Puma-kleure in karate, Hoëveld-kleure in tennis vir die afgelope twee jaar en is bedrewe op die hokkiebaan.
Die grendeltydperk het egter ‘n tol op haar fiksheid geëis.
Haar selfoon is nou na die eksamen teruggegee, televisietyd sal nie meer beperk word nie en ‘n vakansie wag op iemand wat 3D-penne vir Kersfees wil hê.



