Local newsNews

Bethal se bekende Plakker sterf op Oujaarsaand

Hond leef laaste ses jaar in weelde by bejaarde vrou

BETHAL – Plakker, die hond wat homself jare terug op die hoek van Kleynhans- en Malherbestraat op Bethal tuisgemaak het, is op Donderdag, 31 Desember dood.

Dié dier, bekend as Bethal se Hachiko, kon darem die laaste ses jaar van sy lewe snags op ‘n sagte bank slaap en het beslis genoeg kos en water gekry.

Hy het eers vir jare buite op die sypaadjie geslaap terwyl inwoners daagliks vir hom kos en water geneem het en later selfs ‘n hondehok vir Plakker neergesit het.

Hy het homself egter later tuisgemaak in die huis op dié hoek by me. Magda Stander.

Me. Stander het gesê Plakker het sowat ses jaar terug by haar ‘ingetrek’ en sy het hom maar gelos toe hy homself in haar erf en huis begin tuismaak het.

“Hy het net vanself by my katte se deurtjie begin inkom en ek was verbaas die eerste keer toe hy dit gedoen het, want toe het hy al vir lank buite op die sypaadjie gebly,” het me. Stander vertel.

“Hy het naderhand daagliks vir ‘n klein rukkie in my huis ingekom en dan weer uitgegaan en op die sypaadjie gaan slaap.

“Een dag, so maand nadat hy vir die eerste keer deur die katdeurtjie ingekom het, het ek iets gehoor in my gastekamer en toe ek gaan kyk, het Plakker homself op die bed tuisgemaak.

“Ek het hom maar gelos en ons twee het toe lekker saamgebly die afgelope ses jaar.”

Plakker het egter steeds baie uitgegaan en me. Stander het hom gelos dat hy sy gang gaan.

“Hy wou nie toe wees nie so ek het die hekke oopgelos dat hy kon uitgaan. “Hy het dan al sy vriende gaan groet en gaan rondloop, maar die afgelope twee jaar was hy net in die huis want toe was hy al oud,” het me. Stander gesê.

Plakker was ‘n bederfde hond volgens me. Stander, want hoewel hy by haar gebly het, het die gemeenskap ook steeds vir hom kos en versnapperinge op die sypaadjie gegee en die DBV het ook gereeld kos afgelaai.

“Hy wou net menskos eet en nie hondekos nie en hy was ‘n uitstaande bedelaar.”

Me. Stander het vier katte ook gehad en in die begin wou Plakker hulle gevang het, maar sy het met hom geraas en hom geleer hy mag nie haar katte jaag nie.

Twee van dié katte was ook rondloperkatte wat net by me. Stander se huis opgedaag en hulself tuis gemaak het.

“Plakker was al oud en het begin sukkel om te hoor en te sien.

“Ek dink sy organe het begin ingee,” het me. Stander gesê.

Sy het die oggend van die dag waarop hy dood is, gesien hy lyk nie lekker nie en vir hom medikasie gegee, maar hy was egter baie siek en is kort na 11nm op Oujaarsaand dood.

Me. Stander was by hom totdat hy dood is.

“Ek en Plakker het ‘n lekker lewe saam gehad.”

Sy het voordat sy ses jaar gelede afgetree het, vir ‘n finansiële onderneming op Bethal gewerk.

Sy het twee dogters en drie kleinkinders wat in Polokwane en Nieu-Seeland woon.

In haar vrye tyd skilder me. Stander graag of doen water-oefening en sy versamel Royal Albert-koppies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button