Evander-man maak wonderbaarlike herstel ná gru-botsing en staan weer op trou met sy Kayleigh
“Ek het haar weer gevra om te trou, want ek kan nie die eerste keer onthou nie. Ek kan nie glo dat iemand my so lief kan hê nie.”
EVANDER – Ná twee jaar van uiterse beproewing staan mnr. Ruan van Deventer (30) en me. Kayleigh van Rensburg (28) weer op trou – hul liefde en geloof sterker en dieper as ooit van tevore.
Dié paartjie wat al van skooldae af saam is, hoop om op 7 Maart voor die kansel te staan en ewige trou aan mekaar te beloof.
“Ek het haar weer gevra om te trou, want ek kan nie die eerste keer onthou nie. Ek kan nie glo dat iemand my so lief kan hê nie,” het mnr. Van Deventer verlede week met ‘n vonkel in die oog en ‘n glimlag wat nog net die linkerkant van sy gesig ophelder, vertel.
Nog chirurgie en stamselbehandeling sal moontlik kan help om die glimlag ook na die regterkant te laat strek.

Die troue word beplan by dieselfde plek waar dit twee jaar gelede sou plaasgevind het, maar uiteindelik afgestel is omdat mnr. Van Deventer minder as ‘n maand voor hul troudag ernstig in ‘n motorongeluk op Evander beseer is.
Hy het erge hoogbeserings opgedoen en hy was vir weke in ‘n koma. Selfs sy dokters het nie veel hoop gehad dat mnr. Van Deventer ooit weer sou herstel nie.
“Ek was aangeraai om eerder vir Ruan te laat staan en met my eie lewe voort te gaan,” het me. Van Rensburg vertel.
“Die eerste keer toe ek hom in die hospitaal besoek het, het sy hart vinniger geklop en ek het geweet Ruan is nog daar binne.
“Vir my was Ruan nog altyd so perfek. Ek kon nie net wegloop van die man saam met wie ek die res van my lewe wou deel nie,” het sy verduidelik.
Waar sy die liggaamlike en emosionele krag vandaan gekry het, weet sy nie, maar sy het elke môre opgestaan en voortgegaan om haar geliefde in die hospitaal en later ook in die rehabilitasiesentrum by te staan.
“Ek het net geweet dat Ruan toe op sy swakste was, daarom moes ek sterk wees.”
Sy is steeds daagliks tuis aan mnr. Van Deventer se sy om hom met sy oefeninge en opvolg-operasies by te staan.
Mnr. Van Deventer is blind in sy linkeroog en doof in die regteroor.

Die spierverlamming aan die regterkant van sy gesig veroorsaak dat die oog waarmee hy wel kan sien, nie knip nie en baie droog word.
Die verlamming het ook sy spraak aangetas en het dit lank vir hom geneem om weer te kan praat, maar nou skerts hy te lekker en gesels graag.
Die gesigbeserings het ook veroorsaak dat mnr. Van Deventer nie meer kan ruik nie, maar dat sy smaaksintuig verskerp het.
“Ek hou nou veral van melkskommels,” vertel hy.
Hoewel hy voorheen regshandig was, is dié hand ook verswak, en moes hy leer om sy linkerhand te gebruik.
Mnr. Van Deventer kan niks van die ongeluk of dinge van sowat ‘n jaar voor dit onthou nie – insluitende die tyd toe hy destyds vir sy Kayleigh om haar hand gevra het nie.
Hy kan wel die droom wat hy gehad het voordat hy uit die koma wakker geword het, onthou.
“Die Here het met my gepraat. Hy het beloof om by my te wees,” het mnr. Van Deventer vertel.
Dié belofte, Kayleigh se liefde en deursetting en sy ouers se ondersteuning het mnr. Van Deventer aangespoor om daagliks te oefen, uiteindelik uit die rolstoel op te staan en meer onafhanklik te raak.
“Ruan is vir my ‘n aansporing, want hy werk so hard. Hy het soveel selfvertroue en hy inspireer my,” het me. Van Rensburg vertel.
Hy het sedert die ongeluk bykans 20 operasies ondergaan en moet binnekort weer vir rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig gaan sodat sy linkeroogbank opgevul kan word. Hy sal ook in Februarie ‘n tweede stamselbehandeling ontvang.

Die twee kan nie wag om hul mooiste dag met hul hartsmense te vier nie.
Hoewel die bruilofplanne dalk baie eenders is as die eerste keer, weet albei dat hul belofte aan mekaar en aan God hierdie keer soveel meer gaan beteken.
Kyk hier na ’n hartroerende video oor Ruan se herstelpad.




