Marietjie Pretorius van Standerton neem bestek op van 45 jaar in die onderwys
“Ek hou nie daarvan dat kinders en diere te na gekom word nie.”
Me. Marietjie Pretorius van Leydsstraat op Standerton het na etlike dekades in die onderwys eers op die ouderdom van 70 die tuig neergelê.
Herinneringe aan die leerders wat sy onderrig het, sal nie in die vergetelheid bly nie.
“Ek het al die briefies, met name op, van die kinders wat vir my geskryf het, gehou en moontlik sal ‘n plakboek nou die aangewese ding wees,” het Marietjie gesê.
Sy verwys na 45 jaar se briefies wat kinders vir die juffrou met die reukwater, oorbelle en lipstiffie geskryf het.
Marietjie het destyds aan Hoërskool Westonaria gematrikuleer en die jaar 1968 het haar gesien as kollegestudent by die voormalige Pote, Potch se onderwyskollege om ‘n drie-jaar-diplomakursus te voltooi.
Dit was eers op 38-jarige ouderdom dat sy nog ‘n studiejaar, ‘n THOD, bygevoeg het om haar verder te bekwaam.
Daarna is ‘n twee-jaar-kursus in jeugweerbaarheid gedoen.
Sy het vir byna twee jaar by Standerton Primary School skoolgehou en haar eersteling se swangerskap het gesorg dat sy die arbeidsmark vir vier jaar verlaat het.
Daarna het Laerskool Standerton gevolg waar sy vir 40 jaar skoolgehou het.
Die verpligte pensioenaftreedatum het aangebreek, maar die lewe het ‘n kinkel gegooi.
“Ek was vir sewe maande ‘n pensioenaris wat baie lekker was, maar lekker is later nie meer lekker nie.
“Ek kon nie heeldag lees, televisiekyk of tuinmaak nie.”
Na die oproep van mnr. Steve Swanepoel van Standerton Akademie in 2016, het sy weer voor in die die klaskamer gestaan.
“Toe ek die eerste oggend by die hek instap en die kinders sien, het ek geweet ek kan iets vir hulle beteken.
“Ek het tuis gevoel.”
Marietjie se sorgsaamheid strek ook verder.
“Ek hou nie daarvan dat kinders en diere te na gekom word nie.” Sy het in ‘n stadium 11 wilde katte onder haar vlerk geneem en in die grendeltydperk verlede jaar, het Tintinkie sy opwagting gemaak.
Na ‘n kursus hondsdolheiddoepa, het hy homself tot huiskat bevorder wat die kathiërargie, waar Sheldon koning gekraai het, versteur het.
“Sheldon is nie mal oor die maplotter wat sy intrek geneem het nie.”
Marietjie, haar sus en vriendinne het al Venesië, Spanje, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek en Oostenryk besoek en as dit nie was vir Covid-19 nie, was die Skandinawiese lande hul bestemming verlede jaar.
“Ek geniet reis en glo jy moet die lewe geniet met dit wat jy het.”
Ook vir ‘ballroom dancing’ knyp sy ‘n tydjie af.
Sy en Anton is familievas en vyf kinders en sewe kleinkinders kan weglê aan die tuisgemaakte, ingelegde groente en vrugte.
“Ek het innerlike vrede en gee erkenning aan ons Hemelse Vader vir 70 jare se genade, seën en gesondheid.”



